Vrou wat in kar bly in lykshuise gesoek
’n Vrou wat voor kerke in haar kar gebly het, word vermis.
Dalene de Wet is drie weke gelede laas in eMalahleni gesien en het op 11 Mei 2022 die laaste keer met haar dogter gepraat.
Sedertdien is haar foon af en ’n vriendin, Margaret Jacobs, het lykshuise in Middelburg, Belfast en eMalahleni gekontak, nadat hulle verneem het dat sy moontlik oorlede is. Die lykshuise het egter gesê dat hulle nie ’n persoon het wat haar beskrywing pas nie.
’n Familielid (wat verkies om anoniem te bly) het Dalene se hartseer verhaal vertel.
“Sy was ’n sterk vrou, maar nadat sy haar werk by Optimum Myn verloor het, het sy agteruit begin gaan.”
Dalene het jare vir Eskom by Hendrina Kragstasie gewerk, waarna sy vir meer as 10 jaar by Optimum as plofstofhanteerder gewerk het.
“Sy het in ’n meenthuiskompleks in Middelburg gebly, maar kon nie weer werk kry nie. Die geldjies het vinnig klaar geraak en het sy op straat beland.”
Hulle vermoed die feit dat sy nie weer werk kon kry nie, was vir haar geweldig traumaties “en het een of ander versteuring veroorsaak.”
Inwoners sal onthou hoe sy in haar karretjie gebly het, soms voor kerke, ander kere sommer in die middel van die straat of onder ’n boom by Krugerdam.
Toe die kar nie meer kon ry nie, het sy in die strate op en af gedwaal.
“Ons het al alles probeer om haar te help. Ons het haar gaan oplaai en plaas toe gebring, maar as jy een oggend opstaan, dan is sy net weg. Haar dogter het darem met haar kontak gehad, maar van middel Mei af is haar foon af. Ons vermoed haar foon is gesteel.”
Margaret se ma, Margaret du Plessis, het ’n lang pad met Dalene gestap.
“Ek het haar eenkeer ’n geleentheid aangebied. ’n Ander keer het ons gaan help toe haar kar onklaar geraak het by die kerk en het ons haar gehelp om die kar reg te maak.”
Hulle het die kar na die Towers Motel toe gevat en vir Dalene verblyf aangebied. “Ek en ’n ander vroutjie het vir haar kos gegee. Partykeer het sy in die kamer geslaap en ander kere het sy in haar kar geslaap.”
Margaret (snr) onthou dat Dalene baie verknog aan haar kar was en die kar, “Seun” genoem het.
Die oomblik toe die kar heeltemal onrybaar geraak het, het Margaret (snr) gereël dat haar seun die kar kom haal om dit reg te maak.
“Die kar staan nog by my seun waar hy aan hom werk. Dalene het my drie weke gelede gebel en gevra hoe ver hy met die kar is. Sy het gesê sy is in Witbank (eMalahleni). Sedertdien is haar foon af en ons is bang die foon is dalk gesteel!”
Margaret (snr) sê dat almal, sy en Dalene se familie, haar probeer help, “maar sy wil eenkant wees. Sy praat nie oor haarself nie.”
Die familielid het gesê dat hulle nou “weer alles gaan probeer om haar uit die koue te kry en vir haar verblyf te gee. As ons net weet waar sy is!”
Enige persoon wat weet waar Dalene haar bevind, kan Deidré bel by 076 348 0224, Makyla by 072 907 6702 of Hans by 082 464 1892.
•Daar is ook mense wat Dalene al voorheen in Bronkhorstspruit gesien het.
