
Die lisensiekantore is weer gesluit!
Sommige inwoners het vir die agtste keer sonder sukses probeer om diens daar te kry.
Die bestuurder van Steve Tshwete Munisipaliteit se kommunikasiekantoor, Prudence Magutle, sê dat die adjunk direkteur van verkeer, wat klagtes van aanranding teruggetrek het teen stakende munisipale werkers, met lyfwagte by die werk opgedaag het.
Volgens Magutle voel “amptenare onveilig in die teenwoordigheid van die lyfwagte” en dat hulle eers sal terugkeer werk toe as die lyfwagte die perseel verlaat het.
Een inwoner, wat versoek om anoniem te bly, het vanoggend woedend laat weet dat hy al van 07:00 in die tou gewag het, voordat hy deur personeel weggewys is.
“Dit voel of ek ’n aar in my kop gaan bars! Ek poog al van 19 Mei af om my lisensie te hernieu! Wat sê ek vir ’n verkeersman as ek voorgekeer word?”
Intussen teiken werkers al meer raadslede, amptenare, lede van die publiek en ook die Middelburg Observer wat hulle wandade aan die kaak stel en kla oor hulle optrede.
