Soektog na vrou die naweek lewer niks op
Dalene de Wet, die vrou wat in haar kar gebly het, is steeds weg.
Die naweek het Margaret du Plessis, ’n vriendin wat haar al verskeie kere probeer help het, na Dalene in Middelburg en eMalahleni gaan soek.
Dalene se dogter, Deidré Visser (wat in Lydenburg bly), het ’n oproep gekry dat iemand vir Dalene na ’n psigiatriese eenheid in eMalahleni geneem het.
“Ons was by die Witbank Hospitaal om uit te vind of sy in die psigiatriese eenheid opgeneem is. Hulle het gesê hulle verwys psigiatriese pasiënte na die Wolwekrans Hospitaal. Ons is ook soontoe, maar sy was nie daar nie.”
Vandaar is hulle na talle plekke in eMalahleni en Middelburg waar Dalene soms gesien is.
By ’n parkeerarea in eMalahleni, waar Dalene soms karre opgepas het, is gesê dat hulle haar ook drie weke laas gesien het.
In Middelburg het hulle by ’n vulstasie geriefswinkel verneem dat sy twee weke gelede daar koffie gedrink het, maar daarna het hulle haar nie weer gesien nie.
Margaret wonder of iemand, soos ’n gastehuis, nie dalk vir Dalene tydelike verblyf aangebied het nie.
“Dalene hou daarvan om eenkant te wees, so sy kan enige plek wees. Ons is bekommerd dat sy beroof is, omdat haar foon heeltemal af is.”
Margaret het oor die naweek weer vir Dalene ’n SMS gestuur, maar nog geen antwoord gekry nie.
“Ek wonder ook of sy nie dalk ’n geleentheid Pretoria toe gekry het nie, want haar kar staan mos daar by my seun om reg gemaak te word. Sy is baie verknog aan haar kar, maar sy het nie my seun se adres nie. Sy moet dus met my kontak maak om die adres te kry.”
•Deidré het in antwoord op mense wat haar veroordeel omdat sy haar ma tot nou toe nie voltyds ingeneem het nie, gesê dat mense nie die agtergrond ken nie.
Lees ook: Vrou wat in kar bly in lykshuise gesoek
“Ek het al oor en oor vir haar gesê om by my te kom bly. Ons het baie drama met my ma gehad vandat ek ’n kind was, maar steeds was ek nog altyd bereid om haar te help. As jy my ma ken, sal jy wéét, niemand dwing Dalene om iets te doen wat sy nie wil nie.”
Selfs toe hulle as gesin nog saam was, het haar ma gereeld verdwyn.
Nadat Dalene haar werk verloor het, het sy “al die geld vinnig spandeer en op straat beland. Ons familie het al álles probeer om my ma te help, maar sy wil op haar eie wees.”
Deidré onthou hoe sy onlangs haar ma in Middelburg op ’n straathoek gekry en by haar gepleit het om saam met haar te kom koffie drink.
“Ons het ’n normale gesprek gehad en ek het gesê sy moet asseblief by my kom bly. Sy wou niks weet nie! Ons het vir haar geld getrek en lekkernye gekoop en sy het net weer uit die kar geklim.”
Alhoewel haar ma verkies om so te leef, het Deidré gereeld met haar kontak per foon gehad.
Deidré het vroeg in Meimaand haar saamgenooi op hul vakansie in Junie.
Toe Deidré egter weer haar ma probeer kontak, was haar foon af. “Dit is asof iemand haar simkaart uitgehaal het. Dit is só koud, ek en tannie Margaret wil my ma help, maar sy het net verdwyn. Ons wil net weet of sy veilig is.”
Enige persoon wat weet waar Dalene haar bevind, kan Deidré bel by 076 348 0224, Makyla by 072 907 6702 of Hans by 082 464 1892.
