News

Familie rasend van bekommernis oor vrou wat verdwyn

Dalene de Wet is steeds weg.

Sedert die berigte oor haar verdwyning op www.mobserver.co.za verskyn het, is haar dogter die afgelope week uit Hendrina en Randburg gekontak.

Deidré Visser sê sy het ’n oproep uit Hendrina gekry dat hulle haar ma in ’n parkeerarea hierdie week in Hendrina gesien het.
Die mense het onderneem hulle sal videomateriaal vir haar stuur dat sy kan kyk of dit wel haar ma was, maar sy het dit tot op hede nog nie gekry nie.

Uit Randburg was daar ook mense wat gesê het hulle het haar ma gesien.

Lees ook: Vrou wat in kar bly in lykshuise gesoek

“Die kar en die beskrywing wat hulle van my ma gegee het, het geklink soos sy, maar toe hulle teruggaan om haar en die kar af te neem, was sy reeds weg.”

Daar was ook gerugte dat iemand haar na ’n psigiatriese eenheid in eMalahleni geneem het, maar hul soektog het niks opgelewer nie.

•Me. De Wet is al ’n geruime tyd op straat nadat sy alles verloor het toe sy haar werk by Optimum verloor het.
Vroeër jare het sy en haar gesin op Hendrina gebly toe sy by Eskom gewerk het.

Deidré het gemeld dat sy, vriende en ander familie al verskeie kere probeer het om haar ma te help en vir haar verblyf aan te bied.

“Sy loop egter elke keer weg. Sy wil op straat, in haar kar wees.”

•Daar is talle mense wat gemeld het dat Dalene ’n geestesversteuring het.

“Ek weet wat die mense van my ma sê, maar ons kan haar nie met geweld vasdruk en haar dwing om na ’n dokter of iemand anders toe te gaan vir behandeling nie.”

Lees meer: Soektog na vrou die naweek lewer niks op

Deidré het genoem dat haar ma ’n moeilike kinderlewe gehad het en dat sy selfs nadat Deidré gebore is en groot geword het, soms ‘vreemde’ dinge aangevang het.

Haar stormagtige kinderlewe ten spyt, het sy nog altyd kontak met haar ma behou. Sy is egter baie bekommerd oor haar, aangesien haar foon sedert Meimaand af is.

“Ons is so bang sy het dalk iets oorgekom.”

Dalene het nog tydens hul laaste gesprek ingestem om vir drie weke in haar dogter se huis te gaan bly, terwyl hulle met vakansie gaan.

“My ma het volstrek geweier om saam met verlof te gaan, maar was opgewonde om saam met ons diere in die huis te kom bly. Op hierdie manier het ek geweet dat sy ten minste drie weke uit die koue uit sou wees en kon ek haar dalk oortuig om vir altyd by ons te kom bly. Sy het egter soos ’n groot speld verdwyn.”

•As enige persoon vir Dalene sien, bel Deidré by 076 348 0224, Makyla by 072 907 6702 of Hans by 082 464 1892.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button