News

Dis Nou Genoeg! herleef na uittog van “gemaklikes”

Die Dis Nou Genoeg! beweging het Woensdagaand ’n tweede asem gekry, nadat stigter Arthur Hill, in ’n bykans 17-minuut lange stemboodskap uitgevaar het teen die dorp se “gemaklikes” wat net kla sodra hulle van dienste ontneem word.

Hill het sy boodskap begin deur te verduidelik waarom hy die laaste twee maande niks van hom op die Dis Nou Genoeg! WhatsApp groepe laat hoor het nie.

Met die stigting van die beweging, en die daaropvolgende massavergadering by Kees Taljaard Stadion, het die Dis Nou Genoeg! groepe bykans 3000 lede sterk gestaan.

Intussen het sowat 700 mense reeds die groepe verlaat, en die uittog duur voort.

Volgens Hill was kommunikasie die afgelope ruk onnodig, omdat munisipale werkers weer begin werk het.

Hy het ook die stilswye opgeneem omdat hy meen, “Middelburgers is nog nie gatvol genoeg nie,” en dat hy, manalleen, nie die oorlog teen voortslepende stakings kan wen nie.

Hill sê Middelburg se gloriedae as die provinsie se skooste, netjieste dorp, is daarmee heen.

Hy sê egter dat die voortslepende arbeidsgeskille by die munisipaliteit, die dorp se inwoners nie ontneem van hul konstitusionele reg tot dienste nie.
Volgens Hill moet inwoners, soos die stakers, “vir die munisipaliteit wys ons is gatvol”.

Hy sê navorsing toon dat dorpe waar inwoners beheer oor munisipaledienste neem, bankrot is.

“Ons kan ongelukkig nie ’n trust begin in Middelburg nie, want die munisipaliteit is steeds solvent,” sê hy.
Hy sê munisipale werkers is bloot “slapgat”.

Die doel van die ellelange boodskap was om inwoners wat steeds op die Dis Nou Genoeg! groepe is, te versoek om met voorstelle vorendag te kom oor hoe die dorp weer reggeruk kan word.

Hy meen ’n optog na die munisipaliteit is steeds nodig.

Die toekoms van Dis Nou Genoeg! is egter in die weegskaal, en sal nou bepaal word op grond van inwoners se terugvoer en ondersteuning.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button