Met glas in gesig geslaan, drie voertuie raakgeskiet tydens geveg
Drie voertuie is raakgeskiet en ’n jong man is in die gesig en nek met ’n glas geslaan, tydens ’n bakleiery Sondag in die vroeë oggendure in die parkeerarea tussen die Hoofkantoor kuierarea en I-Cars Motorhandelaar op die hoek van Cowen Ntuli- en Walter Sisulustraat.
Mnr. Johnny Morgan (mede-eienaar, I-Cars) het bevestig dat drie van hul voertuie op die vertoonarea raakgeskiet is.
Doppies en ’n koeëlpunt wat hy opgetel het, dui daarop dat dit ’n 9mm kan wees.
Die bakleiery het omstreeks 01:30 plaasgevind, kort daarna het die skote geklap.
Na wat verneem word is ’n jong man in Hoofkantoor deur ’n ander man gevra “om na buite te gaan.”
In die parkeerarea is hy met ’n glas in die gesig geslaan, voordat hy nog kon vra hoekom hy moes uitkom. Die glas het in sy gesig gebreek en hy het snywonde aan sy oor, wang en nek opgedoen, wat later met steke geheg moes word.
Daar is vir www.mobserver.co.za gesê dat hy twee houe teruggeslaan het, om weg te kom, sodat hy mediese behandeling kon kry.
By die hospitaal is hy meegedeel dat die gebreekte glas millimeters vanaf sy hoofslagaar was en as die een wond dieper was, sou sy wangsenuwee afgesny gewees het.
Kort na die glasaanval is daar ook skote gevuur en is drie voertuie van I-Cars, waaronder twee Hilux bakkies en ’n Ford bakkie, raakgeskiet.
Mnr. Morgan sê dat hulle deur die loop van Sondag eers van die gebeure verneem het.
Die voertuie is voor in die bakwerk geskiet.
“Daar slaap baie haweloses om die geboue en ons het Sondag rondgeloop om seker te maak dat nie een van hulle raakgeskiet is nie,” het mnr. Morgan gesê.
•Vanoggend is daar nog ’n koeëlgat in ’n nabygeleë besigheid se advertensiebord gekry.
•Daar is vroeër vandag ook ’n opgefrommelde R20 en stukke glas in dieselfde area gekry.
•’n Aanrandingsklagte is by die polisie geopen en na wat verneem word sal ’n siviele aksie ook volg teen die persoon wat die glas in die man se gesig gebreek het.
•Me. Yolandi Featherstone (Hoofkantoor) het gesê sy is keelvol vir mense wat moeilikheid maak in die parkeerarea buite Hoofkantoor en op so ’n manier dié kuierplek se naam deur die modder sleep.
“Daar was omstreeks 04:00 gisteroggend ’n outjie by my met ’n verband om sy gesig en nek wat gesê het dat hy met die glas in die gesig geslaan is. Mense mag nie met glase uitgaan nie, so die persoon wat hom met die glas geslaan het, het die glas in ’n baadjiesak versteek of ’n eie glas gebruik.”
Sy het gemeld dat sy die videomateriaal nagegaan het in Hoofkantoor en dat daar geen onderonsies in die kuierplek self was nie. Hul videomateriaal gaan ook net tot by die deur en het sy ook niks daar raakgesien wat die slagoffer kan help nie.
•Mnr. Dirk Kotze (40) is in Maart hierdie jaar ook met ’n glas in die gesig geslaan in dieselfde parkeerarea. Hy het ’n ernstige oogbesering opgedoen en ’n groot deel van sy sig is aangetas.
Die saak is later teruggetrek teen die skuldige party en hy het besluit om nie die jong man te vervolg nie.
Lees ook: https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/157977/glasslaner-gaan-nie-vervolg-word-nie/
Gevegte waar mense ernstig beseer word, is ’n algemene probleem in Middelburg.
•Verlede week moes mnr. Coenraad Oosthuizen ’n operasie ondergaan nadat sy kakebeen met ’n vuishou op twee plekke gebreek is by die Oppi Plaas kuierplek.
Hy gaan nie die persoon wat hom geslaan het, mnr. Hercu Nel, laat vervolg nie, “aangesien ek nie ’n ander persoon se lewe wil verwoes nie.”
Mnr. Nel het aangebied om die bybetalings van die mediese uitgawes te dek
•Chris Reynierse het in 1987 op presies dieselfde manier as Dirk Kotze sy oog verloor het in die destydse JB’s.
•Skillie van der Merwe het 2006 sy oog verloor nadat hy met die vuis geslaan is.
•In Maart 2013 is Louis Groenewald ‘n dag nadat hy met een vuishou deur Freddie Kidson naby die destydse Sideline nagklub katswink geslaan is, dood weens breinbloeding. Kidson is ‘n opgeskorte vonnis opgelê.
