Pretorius getreiter, sy kos uit bak gevat, wapen gegryp
Daar is kos uit sy kosbakkie gevat, hy is gekoggel, gevloek, uitgelag, daar is gepoog om sy vuurwapen te gryp en opmerkings teenoor sy ma en pa gemaak, deur ’n groep dronk tieners.
Daar is kos uit sy kosbakkie gevat, hy is gekoggel, gevloek, uitgelag, daar is gepoog om sy vuurwapen te gryp en opmerkings teenoor sy ma en pa gemaak, deur ’n groep dronk tieners. Dit is wat die voorval afgegaan het waar Corrie Pretorius ’n jong man op die grond skop.
In ’n verklaring wat sopas deur die Groblersdal landdroshof in die borgaansoek van Pretorius aanvaar is, in ’n aansoek deur Pretorius se advokaat, JJ Venter, om die ondersoek te heropen, vertel ’n ooggetuie hoe ’n tienerseun Pretorius aanhoudend gekoggel het, voor die onderonsie wat op video vasgelê is.
Die voorval waarin Pretorius na bewering ’n wapen op een van die tieners gerig, en die seun ook aangerand het, is op ’n 49-sekonde videogreep vasgelê en landwyd versprei.
Dit het tot ’n rasseherrie in Groblersdal tussen inwoners gelei, en skole moes selfs verlede Vrydag sluit, weens oproer deur onder meer die EFF buite die hof.
Volgens die verklaring was ras egter nie ter sake by die voorval nie, maar die tieners se onordelike gedrag.
Die verklaring, in www.mobserver.co.za se besit, skets die volgende prentjie van die voorval:
Volgens ’n sakeman was hy omstreeks 19:15 op 15 Junie in Fat Cake City waar hy kos wou bestel.
Hy het ’n geraas buite Fat Cake City gehoor, waarna “twee jong mans met alkohol in die hand, die winkel binnegekom het”.
Op dié stadium was daar geen interaksie tussen Pretorius en die tieners nie.
Die sakeman is daar weg om elektrisiteit te gaan koop, waarna hy terug gekeer het vir sy kos.
Met sy terugkoms was Pretorius en sy dogter by die toonbank om te betaal.
’n Groep tieners was op die stadium besig met die speserye en souse toe ’n werknemer van Fat Cake City hulle berispe het om minder te raas en te mors.
Hulle het hierna meer geraas en gemors.
Pretorius het die groep versoek om minder te raas, waarna hy deur drie tieners gekonfronteer is.
Een van die tieners het na die konfrontasie met Pretorius aan hom om verskoning gevra.
Volgens die tiener was hulle by ’n rugbywedstryd waar drank gebruik is.
Die sakeman is weg met sy bestelling, maar terug na Fat Cake City, omdat van die kos wat hy bestel het, nie aan hom gelewer is nie.
Met sy terugkoms in die winkel was die tieners steeds binne, en Pretorius en sy dogter buite wagtende op hul bestelling.
Een van die werknemers het aan die sakeman vertel dat sy nie sy bestelling korrek geneem het nie, weens die geraas wat die tieners gemaak het.
Mnr. Pretorius is toe die winkel ingeroep vir sy bestelling, waar hy deur een van die tieners getreiter is by die speserytoonbank.
Die seun het heeltyd vir Pretorius gevra “uncle can I have a chip”.
Pretorius het volgens die getuie vir die tiener gevra om hom uit te los en sy eie kos te eet.
Toe die tiener sy hand in Pretorius se kos druk, en die anders tieners hom begin koggel, vloek en uitlag, het Pretorius die voorbok aan die bors gegryp en by die winkel uitgedwing.
Buite het die hele groep tieners Pretorius gekonfronteer en hom begin uitjou.
Pretorius het toe sy rewolwer uit sy holster gehaal en grond toe gemik, waarop die tieners laat spaander het.
Hy het sy rewolwer hierna weer terugeplaas en is die winkel in om sy kos te gaan haal.
Een van die tieners het Pretorius toe weer in die winkel gekonfronteer en iets van sy ma en pa geskreeu.
Pretorius is weer uit waar die hele groep hom weer gekonfronteer, en probeer het om sy rewolwer af te neem.
Pretorius het gewaarsku dat hulle nie weer aan sy wapen sal raak nie, waarna ’n tiener hom aan die sy met die wapen geslaan het.
Dis toe dat Pretorius die tiener grond toe gestamp het.
Die getuie sê Pretorius het op geen stadium sy wapen op enige iemand gerig nie.
Na die tiener grond toe gestamp is, is Pretorius in sy voertuig daar weg.
Die tieners is daarna terug die winkel in, waar werkers hulle gevra het om te loop, omdat hulle dronk was en die bakleiery begin het.
• Die staat voer aan dat die verklaring niks aan die borgaansoek verander nie en dat Pretorius in aanhouding moet bly.
• Die borgaansoek is tans verdaag vir ’n teebreek.
