News

Corrie Pretorius – “Hartsmens, altyd bereid om te help”

Corrie Pretorius is geen rassis nie!

Hy en sy vrou het voor hulle na Groblersdal getrek het twee jaar gelede, vir swart en wit kinders, wat sy vrou opgepas het, kospakkies gemaak in Covid-tyd.

Mense wat die gesin goed ken sê hulle is “ongelooflike mense met die mooiste omgee-harte. Hulle is liefdevol en altyd bereid om te help.”

Ondersteuning stroom in vir Pretorius en sy gesin, nadat hy gister borg geweier is in die Groblersdal Landdroshof op klagtes van die rig van ’n vuurwapen en aanranding.

Pretorius, sy vrou Elsie en vier kinders, het twee jaar gelede uit Schweizer Reneke na die Loskop-vallei getrek.

Dit is hier waar sy lewe twee weke gelede onherroeplik verander het.

Hy was in ’n onderonsie met ’n 16-jarige tienerseun by Fat Cake City betrokke en ’n video van 41-sekondes het na die voorval, soos ’n veldbrand op sosialemedia versprei.

Daar is gister tydens sy borgaansoek ’n ooggetuie verklaring by die hof ingedien, wat dit duidelik maak dat die onderonsie nie oor ras was nie.

Volgens die getuieverklaring het die voorval in die parkeerarea waar Pretorius die seun grond toe gestamp en geskop het, met ’n wapen in sy hand, ’n lang aanloop gehad.

Die seun was deel van ’n groep wat hom volgens die getuie gekoggel, gevloek, aangerand en gedreig het.

’n Voormalige kennis van die Pretoriuse, Annuscka Munnik, het haar kort na gister se hofuitspraak tot sosialemedia gewend, waar sy Pretorius se lof besing het.

“Die man en sy vrou het in Schweizer Reneke waar hulle gebly het voor hulle Groblersdal toe getrek het sowat twee jaar terug vir swart en wit kinders, wat sy vrou opgepas het, kospakkies gemaak in Covid-tyd,” sê me. Munnik in ’n hartroerende plasing.

Sy las by “hulle het uit en uit vir die minderbevoorregte gemeenskap geleef, en gehelp waar hulle kon, al is dit om vir iemand babaklere bymekaar te maak, of te help werksoek”.

Me. Munnik sluit af met “dis ’n skande dat Corrie Pretorius, en sy vrou, deur hierdie ongeregtigheid moet gaan”.

Sy het die plasing afgesluit met ’n uitdaging aan diegene “wat deur enige van die twee mense gehelp is, om kommentaar te los “oor wie hulle werklik is”.

Dit was nie lank nie, toe ’n stortvloed soortgelyke sentimente oor Pretorius gedeel is.
Kort na die plasing het soortgelyke boodskappe begin instroom.

• Leandrie Goosen – “Mense met omgee-harte. Hulle hande was net oop, met omgee en nog ’n bordjie kos vir iemand”.

• Freda van Straten – “Ons glo die waarheid sal seëvier. Elke dag moet ons as Suid-Afrikaanse burgers “duck and dive” voor winkels en kitskosrestaurante vir die werklose, bedwelmde generasies. Daar is oorvloed en welvaart belowe aan almal, nooit genoem dat jy moet werk vir jou toekoms nie. Wat in Groblersdal gebeur het, glo ek was ’n geval van dronkenskap, wat ’n onskuldige man en sy kinders geteiken het. Ek ken vir Corrie en Elsie. Geen manier hoe hy besluit het om ’n tiener net leed aan te doen nie”.

• Cindy van Zyl – “Ongelooflike mense met die mooiste omgee harte. Altyd vriendelik, liefdevol en bereid om te help. Regte ou staatmakers”.

• Tilla van der Schyf – “Hulle is inderdaad hartsmense, stel altyd ander eerste”.

• Chantelle Vogel – “Albei mense met omgee-harte. Corrie en Elsie het die wêreld op hulle hande gedra en hulle huis was altyd oop, ongeag wie of wat jy is. Ons bid vir geregtigheid”.

• Marian Opperman – “Sout van die aarde Corrie en Elsie. Hul harte gaan uit na minderbevoorregtes en hulle het soveel gedoen in Schweizer. My hart gaan uit na julle, geregtigheid sal seëvier”.

• Me. Pretorius het haar innige dankbaarheid teenoor ondersteuners uitgespreek met “al julle ondersteuning hou ons op ons voete. Geregtigheid sal wel iewers seëvier, ons moet net aanhou glo. Dankie ook vir elke persoon wat ’n boodskap stuur of vir ons opkom. Ons waardeer julle!”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button