Dié bobbejane weet waar die yskasdeur is!
Die bobbejane by Presidentsrus, net buite Middelburg, weet waar sit ’n yskasdeur!
Me. Zelda Helberg het www.mobserver.co.za gebel en haar misnoeë uitgespreek “met 15 bobbejane wat voor my kombuisvenster vir my sit en kyk! Van hulle is so groot soos ek!”
Sy bly by Presidentsrus en sê daar is geen rus met die bobbejane nie.
“Hier is honderde bobbejane. Jy kan nie ’n venster of ’n deur ooplos nie, dan is hulle in jou huis en ruk alles oop.”
Hulle het ’n keer of wat ingeglip en dadelik gehardloop vir die yskas.
“Hulle het die yskas oopgeruk en alles uitgegooi!”

Me. Helberg glo hulle kom na die huise omdat daar in die winter te min kos is “en sommige mense vir hulle kos gee.”
Sy is van mening dat hulle buite beheer aangeteel het en dat daar ’n manier gevind moet word om hulle getalle te verminder.
•Mnr. Lucas van der Berg sê alhoewel die bobbejane verlede week skade aangerig het by sy huis, “is ek nie vies vir hulle nie. Mense weet as hulle op Presidentsrus kom bly, is hulle in die middel van die natuur en dis die bobbejane se blyplek.”
Hy onthou hoe die een bobbejaan teen die huis se grasdak opgeklim het.

“Toe ek uitkom, het hy van die huis se dak af op die wendyhuis se dak gespring en het regdeur die wendyhuis se sinkdak geval.”
Mnr. Van der Berg sê dit was ’n baie groot bobbejaan wat seker meer as 60kg geweeg het.
“Ek bly al ’n paar jaar op Presidentsrus en weet waarvoor ek my ingelaat het. Ek is nie kwaad vir die bobbejane nie en het maar net die skade reg gemaak.”
Dit is nie snaaks as daar partykeer tot 40 bobbejane op ’n slag in die pad voor hul huis of in hul erf in beweeg nie.
“Ek jaag nie die bobbejane weg nie, maar daar is beslis mense wat hulle lok deur vir hulle kos te gee. As mense hulle aanhou voer, gaan hulle mos aanhou terugkom na die huise toe.”
Hy voel daar is meer as genoeg plek vir die bobbejane om rond te beweeg, aangesien daar aangrensend met Presidentsrus wildsplase is. “Daar is nie te veel bobbejane vir die area nie.”

Mnr. Van der Berg sê die bobbejane sal ook eerder vlug as om ’n gevaar vir mense te wees.
“Die apies in die omgewing is baie meer aggressief as die bobbejane.”
•Mnr. Riaan Bezuidenhout stem saam met mnr. Van der Berg dat mense die bobbejane maar net moet verdra.
Hulle het tot onlangs toe nog op Presidentsrus gebly en sê die bobbejane het gereeld skade aangerig by hul huis. Hulle het by sy huis selfs die gras uit die grasdak getrek.
“Die bobbejane was gereeld by ons huis en baie stout gewees. Hulle het asblikke omgegooi en sakke verskeur, maar ons was steeds lief vir hulle en die apies. Ons het nooit gekla nie.”
