Katte waarsku vrou teen swartmamba
’n Vrou het ’n bykans drie meter lange swartmamba in die oë gekyk!

Riaan Bezuidenhout voel nou nog kriewelrig as hy kyk na die foto’s en video wat sy vrou, Antoinette, van ’n swartmamba by Presidentsrus (net buite Middelburg) geneem het.
Die Middelburg Observer het onlangs ’n berig in die koerant gehad met die foto wat me. Bezuidenhout geneem het, nadat iemand op Snakes of Southern Africa gevra het dat die slang geïdentifiseer moet word.
Daar is natuurlik dadelik geantwoord dat dit ’n swartmamba is.
Die persoon wat die foto geneem het, is egter nooit opgespoor nie en www.mobserver.co.za het toevallig hierdie week verneem dat dit Antoinette was toe ons hulle gekontak het oor ’n ander storie.
Antoinette het die oggend gesien dat die wilde katte naby hulle huis baie senuweeagtig was.

“Dit is asof hulle haar wou waarsku. Hulle het gereeld slangetjies gevang in die omgewing, maar daardie oggend het hulle heen en weer rondgehardloop, om haar weg te hou van die bos af.”
Die spesifieke area is sowat drie meter van hul agterdeur af.
Antoinette het uitgestap om ’n kombers van die stoepreling af te haal en het op pad soontoe die katte gesien.
“Die oomblik toe sy die kombers afhaal, het die swartmamba sy kop tussen die bosse opgelig. Dit was naby genoeg dat sy hom in die oë kon kyk!”
Antoinette het dadelik begin foto’s en ’n video neem van die reuse slang.
Die mamba was egter glad nie geïnteresseerd daarin om die katte of vir haar te pla nie en het tussen die bosse in weggeseil.

“Die katte het nog nader gegaan en vir hom gekyk, maar gelukkig nie probeer om hom aan te val nie. Hulle het natuurlik instinktief geweet hy is gevaarlik.”
Op die videomateriaal kan ’n mens duidelik sien hoe die een kat in die lug spring van skrik as die swartmamba se stert skielik vinnig tussen die bosse verdwyn en die takkies en gras kraak.
“Weet jy hoe baie kere het ek en ons tuinman destyds hout in daardie selfde area gaan optel! So drie jaar terug was die Oliftansrivier in vloed en het die water en takke tot in my erf by die bos gespoel. Mense sê juis dat ’n mens baie keer oor slange trap sonder dat jy dit weet.”
Riaan sê hulle het onlangs teruggetrek dorp toe, omdat dit te duur geraak het met die buitensporige brandstofpryse om heen en weer soontoe toe ry.
“Ek en ’n paar mense het gespot en gesê dat ons getrek het oor die slang, maar dit was beslis nie die geval nie.”
•Riaan het goedgunstiglik al die foto’s en video wat Antoinette geneem het, beskikbaar gestel vir publikasie.
•Vroeg in 2018 het Fanie Strydom (destyds van die Middelburg Herpetologiese Vereniging) binne twee maande twee reuse swartmambas by Presidentsrus gevang. Albei kere by dieselfde huis.
Die een slang was 2.6m lank en die ander een langer as drie meter.

•In Maart 2018 is ’n groot swartmamba in Harry Gwalastraat (Dennesig) raakgery en in November 2020 is ’n twee meter lange swartmamba by die Springbokkafee in Kanonkop gevang.
•Vroeg hierdie jaar het ’n swartmamba hengelaars laat skrik toe hy by hulle op die boot gesiel het op Loskopdam.
•Die afgelope vyf jaar is daar al ’n hele paar swartmambas in die dorp en omgewing deur die Herpetologiese Vereniging gevang.
•Victor Boshoff (voorsitter, Middelburg Herpetologiese Vereniging) het onlangs gesê dat die voorkoms van al hoe meer giftige slange in ons omgewing (wat nie gewoonlik hier voorgekom het nie), toegeskryf kan word aan onder andere aardverwarming.
Baie giftige slange kruip ook weg in voertuie en karavane, wanneer mense in areas soos Kwa-Zulu Natal, Limpopo (so naby as Loskopdam en Stoffberg en Steelpoort) en Mosambiek gaan vakansie hou.
•Vir enige navrae rakende die Middelburg/LimPuma Herpetologiese Vereniging se werksaamhede, bel 082 697 9954 of Bernard van der Berg by 082 769 0227.
