Waarom al die gevegte?
Baklei mans, en veral jongmense by kuierplekke omdat daar te min is om te doen op Middelburg? Of is dit bloot net ’n gebrek aan respek?
Na talle gevegte die laaste paar weke, het www.mobserver.co.za die gemeenskap gevra wat hul gevoel is oor die bakleiery.
•“Die generasie van vandag is lekker bekkig grootgemaak, want hulle word nie meer met respek grootgemaak nie,” het Robert Blignaut gesê.
Hy voel mense kan “deesdae nie meer hul drank hanteer nie.”
Volgens Robert is daar nie veel om te doen in Middelburg nie en daarom gaan kuier meeste jong mense tot laatnag by kuierplekke en drink te veel.
•“As mens ’n bakleiery wil wen, loop weg” sê Edward Opperman. Hy voel een van die groot redes waarom daar so baie bakleiery is, is omdat daar onder jong mense van vandag nie meer respek vir mekaar is nie.
Hy is van mening dat baie mense vol stres is. “Daar is selfs mense wat ’n goeie werk het wat sukkel, maar wanneer dit kom by drank moet jy steeds jou perke ken.”
Hy voel dat “die oprig van ’n cinema en arcade ’n baie groot verskil sal maak. Hier is ten minste nou ’n driving range.”
•’n Jong man, wat verkies om anoniem te bly, sê dat “drank net petrol op die vuur is. Miskien moet iemand ’n fight night reël, dan sal die bakleigatte daar wees en die res van ons kan dan rustig kuier en dans.”
•Amber, wat verkies om haar van anoniem te hou, se gevoel is dat die gebrek aan vermaak in die dorp nie ’n geldige verskoning is nie. “Alles gaan oor keuses. Mense raak dronk en om hulle gat te cover en dit te regverdig, sê hulle dat hul drank gespike is.”
Volgens haar is volwasse mense veronderstel om van beter te weet as om mense wat wil baklei, se ego te voed.“Hulle soek net reaksie, as jy dit nie vir hulle gee nie en wegloop, sal daar nie ’n bakleiery wees nie.”
•André Roos sê dat baie mense rusie onder mekaar het weens inmeng van verhoudings of familiesake. “Dan dink hulle baklei is die oplossing na ’n paar doppe.”
•’n Vrou (wat ook anoniem wil bly), het agtergekom dat jaloesie tussen mense ook ’n groot rol speel.
Al is daar min om te doen in Middelburg, voel sy daar is oorgenoeg dinge net buite die dorp of in eMalahleni om te doen. “Ek sal nie sê maak die kuierplekke toe nie, maar strenger reëls en vroeër toemaakure sal beslis help.”
Sy sê dat bitter min mense se kake afgeslaan word by hul eie huise “en niemand slaan mekaar daar met glase nie. Daar was baie minder bakleiery toe lockdown se ure tot 22:00 en 23:00 was, selfs minder ongelukke.”
•Brenda Meyer sê die jonges word dronk en baklei omdat hulle niks het om te doen nie. “Daar is heeltemal te veel minderjariges ook in die kroeë vandag en mense kan nie hul drank hanteer nie.”
•Volgens nog ’n anonieme persoon is dit tieners en mense in hul vroeë twintigs “wat rammetjie uitnek wil wees, veral as dit kom by aanlê by ander mans of vrouens.” Sy mening is ook dat mense nie hul drank kan hanteer nie.
•Carl Kitshoff (jeugpastoor, Corpus Christi) se opinie: “Mense ruil langtermyn geluk en vervulling vir kort fixes.”
Hy sien dat daar tussen die ouderdom van 18 en 35 baie mense is wat nog nie weet wie hulle is nie en het. ’n identiteitskrisis.
“Hulle probeer die gap wat hulle het, vul met oppervlakkige verhoudings en drank en dit maak dat hulle baklei sodra iemand die bietjie geluk wat hulle het, probeer steel of oorneem.”
Volgens Carl gee drank jou nie nuwe begeertes nie, maar gee wel die eerste keer moed om op te tree teenoor wat jy voel.
•“Mense gaan kuier met die verkeerde doel en dit is om gesuip te raak. Hulle het geen respek vir ander vrouens nie en kan nie hulle drank hanteer nie,” het ’n anonieme vrou vertel toe sy sê dat mense “onnodig dink hulle is sterk na hulle gedrink is, meantime is hulle alles behalwe.”