News

Die vrou wat die wind weer terugsit in die windhonde

Die wind is terug in die windhonde!

Windhonde wat van ’n gewisse dood gered is, kan nou vry rondhardloop en die res van die tyd op hul nuwe eienaar se banke deurbring.

Isabelle Nel is lief vir al agt haar honde, maar haar vier windhonde het so spesiale lêplekkie in haar hart, want elkeen van hulle het ’n besondere verhaal.

Twee van die windhonde het sy by die Greyhound Welfare in Johannesburg gekry, een by Natalie Grobler van Vallei Dierefonds (in Groblersdal) en die laaste een “het ek sommer net gered uit moeilike omstandighede uit.”

Sy onthou hoe Dean Bush (van Geyhound Welfare) haar erf kom inspekteur het, voordat hulle die honde, wat uit erge omstandighede verwyder is, vir haar gegee het.

“Baie windhonde het ongelooflike hartseer verhale. Mense teel met hulle en verkoop die kleintjies vir tot R4 000 sodat hulle gebruik kan word vir jag.”
Isabelle sê baie keer word dié windhonde tot die uiterstes gedryf vir jag.

“Hulle kry nie genoeg voeding nie en dan breek hul bene sommer so in die hardloop en word aan hul eie lot oorgelaat. Soms word hulle net daar met klippe doodgegooi. Ander beland in strikke. Dit is uit hierdie omstandighede dat hulle gered word.”

Elkeen van haar windhonde het sy eie verhaal.

•Kalisi het sy in 2020 op Facebook raakgesien toe haar naam nog Lilly was. Op daardie stadium was sy nog by ’n vrou wat as pleegma optree vir die Greyhound Welfare sentrum.

Dean het gesê sy moet kom kyk hoe sy lyk en Isabelle het net daar verlief geraak.

Met Kalisi se aankoms in Middelburg het sy ’n snaakse huilgeluid gemaak en Isabelle het aangeneem sy voel alleen.

Kalisi was ook brandmaer toe sy gered is.

“Ek het toe reeds Yorkshire Terriërs gehad, maar hulle was nie regtig haar maatjies nie.”
Sy het weer vir Dean gekontak.

•Dié keer het hy vir haar gesê dat hy ’n windhond vir haar het wat gered is op ’n plek anderkant Alberton.
So het Ruby by haar beland en Kalisi was sommer dadelik gelukkig.

Ruby en Kalisi speel graag saam.

•Terwyl sy een middag met die honde gaan stap het in die begraafplaas, het ’n vrou haar genader en gevra of sy nie nog ’n hond soek nie.
Die vrou het vertel van ’n hond wat erg mishandel word, maar Isabelle het gesê die vrou moet self die eienaar vra of hy die hond vir haar sal gee.

’n Klein rukkie later het Suzie, ’n miniatuur windhond, deel geword van die familie. “Sy was net so ’n maer ou dingetjie.”

Isabelle se kleindogter, Mia Kruger, saam met die minatuur windhond, Suzie. Susie is ook van mishandeling gered.

•Met haar groot hondefamilie, het Isabelle gedink dat sy nou genoeg honde het. Tot die dag, vroeg in April hierdie jaar, wat sy die foto gesien het wat die Vallei

Dierefonds geplaas het.

Die hond was brandmaer en vol bosluise. Boonop het steke van ’n sterilisasie, wat lankal gedoen is, al begin vasgroei.

“Hy het sleg gelyk, maar Natalie-hulle het hom skoon gekry van die bosluise en ek het dadelik aangebied om hom te vat.”

Pepper het gou ingeskakel by sy maats en alhoewel hy nog nie op sy ideale gewig is nie, lyk hy sommer stukke beter. Hy is ook al ’n paar keer veearts toe geneem.

Pepper kort nadat hy gered is.
Pepper is vandag dolgelukkig en gesond.

Vir ’n beter lewe kon die klomp honde nie gevra het nie.

As Isabelle tuiskom in die middae, gaan draf sy saam met hulle in die begraafplaas, of op die Tarries fietsrybaan of HTS Middelburg se C-rugbyvelde. Daarna kom lê hulle op die sitkamerbanke “en slaap soms in die nagte ook sommer op die banke. Al my honde slaap in die huis.”

Wat is nou lekkerder as om na ’n hardloopsessie op die banke uit te span! ’n Paar van die windhonde lê saam met die yorkies op die banke.

Sy voer hulle die beste hondekos op die mark en daar word elke dag vir hulle gekook.

Al wat sy moes opgee, is haar grasperk. “Daar is nie meer gras nie, dit is hulle renbaan!”

Volgens Isabelle is windhonde “lieflike, vriendelike gesinshonde, wat maklik met ander honde oor die weg kom en geensins aggressief is nie. Hulle jaag nie eers die voëls wat ek bedags in my tuin voer nie. Dis pragtige diere.”

Ruby en Kalisi is mal daaroor om saam met hul eienaar, Isabelle Nel, te gaan stap en hardloop.

Sy onthou hoe haar dogter onder andere met ’n pit bulterriër kom kuier het en sy baie benoud was dat die windhonde dalk met haar sal baklei, maar almal het in vrede saamgeleef tot hulle vertrek het.

Isabelle raak weer hartseer as sy dink waaraan baie windhonde blootgestel word.

“Ek het gehoor van ’n man wat onder ’n hoofweg in Gauteng bly met die windhonde waarmee hy jag. Die diere kan egter nie gevat word, alvorens hulle hom nie op heter daad betrap waar hy jag of die diere mishandel nie.”

Isabelle het ook melding gemaak van booswigte wat onlangs windhonde gesteel het by ’n Dierebeskermingsvereniging in Springs. “Ons almal weet wat van daardie diere gaan word.”

•Sy het ter inligting gemeld dat windhonde die tweede vinnigste dier, naas die jagluiperd, op land is. Hulle het ook ongelooflike goeie oë en kan besonder ver sien.

•Isabelle het genoem dat HTS Middelburg (waar sy werk) se landsdiensgroep die komende termyn ’n bewusmakingsprojek gaan loods, waartydens me. Grobler (Vallei Dierefonds) onder andere die spreker gaan wees. Een van die aspekte wat me. Grobler sal aanspreek, is die belangrikheid van sterilisasie van honde.

Buiten die bewusmaking, wil die landsdiensgroep ook fondse insamel vir die Vallei Dierefonds.

Persone wat nou reeds inligting wil bekom oor die projek of bydraes wil lewer, kan Carina du Randt bel by 076 159 1325 of Nadia Louw by 084 061 5651.

 
Back to top button