Radiogroep trek vermeende kabeldiewe vas
Buiten toerusting waarmee kabels geknip en gestroop word, is daar ook dwelms gekry by ’n vermeende kabeldief.
Met die wakker optrede van die Noodroep Radiogroep Sektor 3 is twee verdagtes die afgelope week vasgetrek, nadat kabels gesteel en kragkabels aan die brand gesteek is.
’n Man is op heterdaad betrap waar hy besig was om kabels te stroop vir koper.
Kort nadat die radiogroeplede hom vasgetrek het, het ’n man op die toneel opgedaag en gesê dat die kabels by sy huis net etlike blokke verder gesteel is.
Die verdagte is aan die polisie oorhandig.
•Gisteraand het radiogroeplede omstreeks 22:00 in Verdoornstraat patrollie gery en gesien dat ’n gedeelte van ’n kragboks aan die brand is. Kabels is ook by ’n lamppaal afgeknip.
Een van die lede het ’n dowwe liggie ’n entjie verder gesien en hulle het die persoon agterna gesit.

In Blackmorestraat het hulle ’n verdagte vasgetrek met ’n sak goed by hom. Hy was baie hardekwas en geskree dat hulle eers ’n lasbrief moet kry voordat hulle hom of die sak kan deursoek.
Teen hierdie tyd is die polisie reeds gekontak en het hulle die jong man kom arresteer.

In die sak is daar toerusting gekry om kabels te knip, asook artikels waarmee kabels gestroop word om by die koper uit te kom.
’n Graaf, met vars grond daaraan is ook by hom gekry. By die kragboks waar die kabel geknip is, is die area rondom die kabel oopgespit.
Almal op die toneel het ook die houer met plastieksakkies daarin, waarin daar kristalle was, en die glas dwelmpyp, gesien. Die vermoede is dat dit dwelms soos heroïne of kristal metamfetamien (bekend as ‘crystal meth’ onder verslaafdes), kan wees.

Dié verdagte is ook aan die polisie oorhandig.
•Lede van die Noodroep Radiogroep Sektor 3 het gesê dat hulle nou tydens beurtkrag, veral in die tye tussen 21:00-23:00 en 23:00-01:00, patrollies ry, omdat dit die tye is wanneer die kabels geknip en gesteel word.
•Vir navrae rakende die radiogroep se werksaamhede, bel Marnus Uys (skakelbeampte) by 060 488 3775, of in geval van noodgevalle, hul noodnommer by 062 894 2300.

