Beeste in ’n japtrap met pangas opgekap
Twee beeste is gisteraand in ’n japtrap met pangas opgekap.
Inwoners was verstom hoe vinnig die slagters te werk gegaan het om die twee karkasse met pangas op te kap, kort voor 21:00.
Verskeie troppe beeste word op ’n gereelde basis opgemerk in die dorp se strate, waar hulle al in Dennesig en selfs al by die Middelburg Observer se kantoor gesien is.
Diere wat deur die dorp se strate wandel was in vroeër jare nie ’n snaaksigheid nie, en daar was selfs voorheen in die Middelburg Observer berig dat mense nie hulle fietse moet geel verf nie, omdat dit die dorp se perde verwilder.
Die beeste raak nou ’n groter wordende probleem vir motoriste, omdat hulle sonder toesig gelaat word om te wei, langs besige paaie, waar hulle gereeld voor karre inloop.

Senior inspekteur van die Middelburg Dierebeskermingsvereniging, Petro Oberholzer, sê dat die DBV hulle gehaas het na die ongelukstoneel, maar dat die beeste reeds opgekap was teen die tyd wat hulle daar aangekom het.
Sy kan nie bevestig of die beeste nog lewendig was toe die slagters met hulle werk begin het nie.
Sy kon ook nie bevestig of die Steve Tshwete Munisipaliteit nog ’n skut het waar rondloper diere ophok gehou word tot die eienaar ’n boete betaal het nie.
“Daar was destyds gesê dat die DBV diere moet skut, maar ons het nie die mannekrag of gereendskap om ’n skut te bestuur nie. Ons het toe ’n voorlegging van ’n moontlike skut aan die munisipaliteit gegee, maar vyf jaar later het niks daarvan gekom nie.”
Oberholzer het bevestig dat daar ’n skut vir groot diere op Belfast is.
