Asseblief minister Cele, kom help jou polisiemanne!
Dit is die wilde weste in Middelburg met skote wat klap, mense wat wapens op ander rig en boosdoeners wat mense met messe aanval, maar dié verdagtes gaan aan met hul lewens asof niks gebeur het nie.
In bykans ál die sake is dit voor die hand liggend wie die skuldiges is en is hulle maklik opspoorbaar, maar dit blyk dat die polisie “te besig is” om die skuldiges vas te trek.
Miskien moet polisie minister Bheki Cele kom kyk wat is die stand van polisiëng hier op Middelburg.
•Twee weke terug is skote geskiet en drie karre van I-Cars is getref op die hoeke van Cowen Ntuli- en Walter Sisulustraat. Dit is aangemeld, maar géén verklarings is tot nou toe geneem nie. Daar is selfs doppies gekry op die toneel.
Buiten die karre, is daar ook ’n advertensiebord raakgeskiet en daar is vir www.mboserver.co.za vertel dat daar ten minste 11 skote geklap het.
Lees ook: https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/161873/tot-elf-skote-afgevuur-twee-met-pistole/
•Vier maande gelede (5 Maart) het ’n man met ’n swart BMW ’n wapen gerig op mnr. Heinrich van Aswegen op die hoeke van Lilian Ngoyi- en Beyers Naudéstraat.
Daar is duidelike videomateriaal van die persoon met die wapen in sy hand, asook die BMW se registrasienommer.
Die vrou wat die videomateriaal geneem het, asook ’n ooggetuie wat alles sien gebeur het, se verklarings is egter tot nou toe nog nie geneem nie!
•Tobie Prinsloo is op 31 Mei twee keer met ’n mes gesteek. Hy was gelukkig dat die mes nie enige belangrike organe binnegedring het nie.
Alles het voor CCTV videomateriaal gebeur, waar jy duidelik die registrasienommer kan sien.
Die polisie was by die eienaar van die kar se huis, maar hy was nie tuis nie. Dis alweer bykans twee maande later.