Ian Cameron sal graag weer in Middelburg wil kom kuier
Ons deure is oop en die ketels vol vir Ian Cameron.
Middelburg staan bankvas agter hom.
Inwoners is selfs bereid om vir hom as president te stem, maar Cameron sal eers oorreed moet word, want politiek skeel hom min, titels nog minder.
Hy’s lief vir sy land en hy’s lief vir sy mense, verenig in diversiteit en teen misdaad.
“Beginsel” dis waarop hy sy dagtaak skoei.
Dis wat hom in direkte konfrontasie met polisieminister Bheki Cele gebring het verlede week.
Na die ondersonsie, waartydens Cameron ampertjies uit sy baadjie deur polisielede in uniform, gewapen met aanvalsgewere gestoei is, word hy oorval met boodskappe van ondesteuning, terwyl ’n petisie om minister Cele uit die stoel gelig te kry, daagliks handtekeninge van gewonde landsburgers bykry.
Cameron het ’n paar jaar gelede ook in Middelburg die “establishment” kom aanvat, tot die dorp se veiligheid en voordeel.
Www.mobserver.co.za het verlede week oor Cameron se vestiging van Afriforum se buurtwagtak, in weersin van die GPF, berig.
Die reaksie was verstommend.
Meer as 500 mense landwyd het op die berig kommentaar gelewer, waarvan bykans almal in Cameron se hoek is.
Die berig is meer as 500 keer gedeel en het meer as 5000 “likes” opgelewer, terwyl dit steeds gedeel word.
Op ander sosialemedia platforms van die Middelburg Observer het die berig net soveel aftrek geniet.
Dis duidelik dat Camreon, deesdae veiligheidsdirekteur van Action Society, ’n blink toekoms as regeringsantagonis het.
Volgens Cameron gaan Action Society ’n klag by die Openbare Beskermer indien vanweë minister Cele se “skandelike optrede, versuim om in goeie trou op te tree en omdat hy die geloofwaardigheid en integriteit van sy amp in gedrang gebring het,” as lid van die kabinet.
’n Klag sal ook by die kantoor van die registrateur van ledebelange by die parlement ingedien word.
“Ons sal ’n derde klag by die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat (Opod) indien, om die wangedrag deur lede van die SAPD te ondersoek, toe hulle my met geweld van die vergadering verwyder het en my onregmatig van my reg op vryheid en liggaamlike integriteit ontneem het,” sê Cameron.
Die laaste is ’n kriminele klag teen minister Cele en die polisielede vir aanranding.
Cameron het Middelburgers bedank vir hul ondersteuning en gesê hy sal graag weer hier wil kom kuier.