Jongman sterf terwyl daar vir toegeruste ambulans gewag word
Werner Beukes (20) het Saterdagaand in die Middelburg Hospitaal se Ongevalle eenheid gesterf, terwyl daar gewag is vir ’n ambulans vanaf Delmas om hom oor te plaas na die Witbank Hospitaal.
“Die Here het my kind kom haal, voordat die ambulans opgedaag het,” het sy ma, Moira, gesê.
Werner is Saterdag omstreeks 16:00 in Samora Machelstraat raakgery. Me. Beukes het gehoor van die ongeluk en is na die toneel.
“Ek het met hom probeer praat, maar hy het nooit wakker geword nie. Hy het darem nog geluister as hulle vir hom gesê het om asem te haal en stil te lê, toe die ander mense met hom gepraat het, maar toe ek daar kom, was daar geen reaksie nie.”

Die paramedikuste van ER24 het Werner na die Middelburg Hospitaal afgevoer en me. Beukes het agterna gejaag.
“By die hospitaal het hulle my gekeer en moes ek my kar buite los. Ek het van daar af ingehardloop.”
Me. Beukes sê sy het bykans geen asem gehad toe sy by die ongevalle afdeling aankom nie, omdat sy ’n asma-lyer is.
By ongevalle kon sy nie dadelik vir Werner sien nie en het hom daarna net kort rukkies gesien.
Met besoektyd kon ook net een persoon op ’n keer by hom ingaan en sy het haar ma geleentheid gebied om hom vinnig te sien. Toe sy weer wou teruggaan, is sy gekeer.
“Ek het hom eers weer gesien nadat hulle vir my ’n WhatsApp gestuur het om hospitaal toe te kom. Met my aankoms het hulle gesê hy is oorlede.”
Me. Beukes sê die dokters het Werner dadelik op ’n asemhalingsmasjien geplaas.

“Hy moes met ’n ambulans, wat toegerus is met ’n ventilator, vervoer word na die Witbank Hospitaal. Die ambulans moes vanaf Delmas kom, maar Werner is oorlede voor dit.”
Werner het ernstige hoofbeserings opgedoen, asook ’n regterarm- en ribfrakture. Beide sy enkels was ook gebreek.
“Ek dink hy het gesterf weens die kop en inwendige beserings. Hulle het ook vir my gesê dat sy regterhand reeds blou begin word het en hulle dit sou moes amputeer as hy sou leef. Ek berus dat die Here beter geweet het. Werner het met sy hande gewerk en hy sou nie kon werk sonder sy regterhand nie.”
Me. Beukes is dankbaar dat sy die laaste week saam met haar seun kon deurbring.
Nadat Werner sy skoolloopbaan aan die WH de Klerkskool voltooi het, het hy by sy pa, Wouter, op Witrivier gebly waar hy saam met sy pa gewerk het. Werner was ’n assistent dieselwerktuigkundige.

Hy het besluit om terug te keer Middelburg toe en me. Beukes het hom die vorige naweek gaan haal.
Sy werk al 12 jaar by Laerskool Middelburg se Koedoespoortjies (graad R-klas).
“Ek, Werner en sy boetie, Christo (16), sou oor twee weke Johannesburg toe verhuis het, waar ek werk gekry het.” Daar was ook ’n moontlikheid vir ’n werk vir Werner.
Sy het net die mooiste herinneringe aan haar kind.
“Werner was ’n liefdevolle, omgeekind wat lief was vir visvang en jag. Ek het omtrent elke jaar vir hom ’n visstok gekoop. Almal was lief vir hom, veral as ek kyk na al die boodskappe wat ons sedert sy afsterwe gekry het. Hy en Christo was baie close.”
•Werner word oorleef deur sy ma, Moira, broer Christo, pa Wouter, stiefma Debbie, stiefsussie Liani en stiefbroer Dihann.
•Liani sê dat sy en Werner ’n baie spesiale band gehad het. “Ons kon oor enigiets gesels. Hy was ’n spontane jong man en het ’n spesiale plek in almal se harte gehad.”
•Me. Beukes het ’n video van Werner se lewe, wat saamgestel is deur ’n familielid, vir www.mobserver.co.za beskikbaar gestel.
