News

Man druk sy skoeter se toeter vir ‘groot varke’

As jy ’n skoeter het blaas jou toeter, wanneer jy die dorp se wandelende seekoeie sien.

Nick Stevens sing “ek het ’n toeter op my skoeter en so toeter ek my skoeter na jou…”.

Dit is presies wat ’n man op ’n bromponie gedoen het, toe twee “groot varke” voor hom oor die pad geloop het…sy skoeter se toeter geblaas.
Die seekoeie het doodluiters uit die pad gestap, sodat hy verby kon ry.

Seekoeie kan dodelik gevaarlik wees, maar Middelburg se seekoeie het, behalwe dat hulle al ’n perd gejaag en ’n boot stukkend gebyt het, goeie maniere openbaar.

Die seekoeie het, nadat hulle weg is uit Middelburg, opbeweeg vanaf die Klein Olifantsrivier na die Olifantsrivier, waar hulle veral in die eMalahleni omgewing in plaasdamme, in die rivier naby die Jackaroo plotte en verlede week selfs naby die Mpumunzi myn, Kriel se kant toe, gesien is.

Dit is juis die voorval by Jackaroo plotte wat Piet Wassenaar (wat ’n MTPA-permit het om probleemdiere te verwyder) nooit sal vergeet nie.

Hy het verneem dat die seekoeie gevaarlik naby aan mense is en is die aand soontoe om te kyk of hy nie die seekoeie kan verjaag, na ’n ander area toe nie.

Op pad soontoe, het hy ’n man op ’n bromponie langs die pad gesien en by hom gestop.
“Ek het vir hom gevra of hy nie dalk die seekoeie gesien het nie.”

Die man het vir hom vertel dat hy twee “baie groot varke” in die pad sien staan het.

“Hy het vir my gesê dat hy vir hulle toeter geblaas het, waarop hulle uit die pad geloop en hy verby gery het. Hy kan gelukkig wees dat die seekoeie nie gestorm en hom beseer het nie.”

•Mnr. Wassenaar sê die seekoeie het weer terugbeweeg in die Olifantsrivier en vinnig ’n draai gemaak in die Witbankdam, waarna hulle in die rigting van die ou Middelburg/Witbankpad in die rivier afbeweeg.

“’n Man se plaashek is opgerol en daar is seekoeispore gekry.”

•Die seekoeie is tans tusen die Doornpoortdam (links van die N4-hoofweg) en die ou Middelburg/Witbankdampad.

“Ons hoop die seekoeie beweeg terug na oom Jumbo van der Merwe se plaas op die Zaaihoekpad, want hulle het elke keer nog as hulle daar was, ten minste ’n week in die dam gebly.”

Sou hulle terugkeer na sy dam, is die plan om ’n elektriese heining om die dam te span en hulle daar te hou, totdat hulle verdoof en verwyder kan word.

•Wat hom omkrap, is dat daar steeds mense is wat nie besef hoe gevaarlik die seekoeie is nie.

“Daar was sowaar ’n ou wat my Saterdag vanaf sy boot op die Witbankdam gebel het en gevra het waar is die seekoeie, want hy wil gaan foto’s neem van hulle! Ons sê net vir die mense waar die seekoeie is, om hulle te waarsku, sodat hulle kan weet om weg te bly van hulle af!”

•Hy maan mense om versigtig te wees in die omgewing van die rivier waar die seekoeie die laaste keer gesien is. As enigiemand hulle opmerk, bel mnr. Wassenaar by 082 870 4124.

•Die baba-seekoei is nooit weer gesien vandat die seekoeie uit Middelburg uit weg is nie. Sy karkas is ook nooit gekry nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button