Beurtkrag kortwiek plaasaanvaller se vonnis
Die man wat betrokke was by die wrede plaasaanval in Roossenekal het vanoggend (Donderdag) vlugtig in die streekhof op Groblersdal verskyn.

Seun Mthimunye is reeds in November 2020 skuldig bevind na dié aanval.
Gina Otto en haar vriendin, Moeka Gravina, is op 24 Augustus 2018 oorval en aangehou. Hulle is vir ure gemartel en later langs die Lydenburgpad vir dood gelaat.

Me. Otto is tydens ’n soektog gevind en daar is gevrees dat me. Gravina dood is, omdat sy nie opgespoor kon word nie. Sy is die volgende dag deur twee polisielede opgespoor en toe per helikopter na Middelburg gehaas vir mediese behandeling.
Lees ook: Plaasaanval – Aanvallers dreig ‘jy moenie weer terug plaas toe nie’
Daar is destyds berig hoe die aanvallers in Lydenburg prostitute opgelaai het, voordat hulle in ’n skietgeveg met die polisie betrokke was. Een van die aanvallers is doodgeskiet terwyl Mthimunye daarin geslaag het om te vlug.

Ná ‘n soektog is hy uiteindelik gearresteer wat gelei het tot sy skuldigbevinding in die hof.
Hy het vandag in die hof verskyn vir vonnisoplegging, maar die saak is uitgestel, omdat beurtkrag die hof se tyd beperk het.
Hy sal in September gevonnis word.