News

Inwoners eis “waarheid” by munisipaliteit oor kragonderbrekings

Die munisipaliteit trek bloot skouers op oor die afgelope twee dae se voltydse kragonderbrekings in Kanonkop, Dennesig en dele van Eastdene.

Daar is wel bevestig dat die spesiale oliegevulde-kragkabel tussen die Langstraat-substasie en Sipreslaan-substasie ’n lek gehad het.

Oor wat die oponthoud was met die herstel van die kabel, speel die munisipaliteit egter nie oop kaarte met inwoners nie.
Spesialiste moes volgens WhatsApp boodskappe wat rondgestuur is, ingekry word om die kabel te herstel.

Eerstens moet die lek opgespoor en reg gemaak word, voordat die kabel weer met olie gevul kan word.

Volgens die munisipaliteit se inbelsentrum, is daar ook kabels gesteel, maar dit word gewoonlik vinnig herstel sê Dennesig wyksraadslid Johann Dyason.
Hy sê dat hyself nog nie “agter die kap van die byl” gekom het nie, weens munisipale werkers wat weer staak.

“Ons kan nie by die munisipaliteit inkom nie en ons kry ook nie reguit antwoorde oor die foon nie,” sê raadslid Dyason.

Mnr. Sal Botha wat in Dennesig woon het www.mobserver.co.za met ’n string WhatsApp boodskappe tussen hom en die munisipaliteit voorsien, waarin hy ook die munisipaliteit se eerlikheid oor die probleem bevraagteken.

Hy wou weet wat die eintlike probleem is, waarop daar geantwoord is “ons weet nie”.

Op vraag oor hoe die munisipaliteit vir inwoners per SMS kan sê die hersteltydperk gaan minstens vier ure neem, as hulle dan nie weet wat fout is nie, het hy ook blote “jammer ons wag vir inligting gekry”.

Groot dele van die woonbuurte was sedert Woensdagaand se beurtkragfase sonder elektrisiteit.
Krag is eers Donderdagmiddag laat na sekere gedeeltes, soos Impala tot Jasmynstraat, herstel.

Talle inwoners is eers deur die inbelsentrum ingelig dat die kabeldiefstalle verantwoordelik was, maar die blaam is later op die oliegevulde-kabel geplaas.
Volgens inligting moes ’n span spesialiste uit die Rand hierheen kom om die kabel te herstel.

Www.mobserver.co.za het navrae na die munisipaliteit gestuur, maar weens die staking nog geen duidelike antwoord ontvang nie.
Die munisipaliteit kon ook nie sê waar die kabels gesteel, en vervang is nie.

Inwoners weet wel dat honderdeduisende se skade nie aangerig is by die Sipres-substasie soos ’n ander WhatsApp riemtelegram dit verduidelik het nie.
Intussen is inwoners weer bekommerd dat die staking tot verdere duisternis kan lei.

Me. Prudence Magutle van die munisipaliteit kan geen inligting uit die vuis uit verskaf nie.

“Ons weet self nie wat presies gebeur het en waar die oponthoud was nie,” is al wat sy kon sê.

Back to top button