News

Dwelms, dwelms en nogmaal dwelms: Verslaafdes spuit skaamteloos

Dwelmslawe kruip nie meer weg nie.

’n Video wat Donderdag op www.mobserver.co.za geplaas is, van ’n vermeende dwelmafhanklike wat homself inspuit in ’n oop veld, het baie reaksie ontlok.

Talle inwoners het in reaksie op die video hul eie ervarings, waar hulle gesien het hoe verslaafdes voor hulle dwelms misbruik, lig die deksel op hoe dwelmmisbruik op Middelburg so versleg het, dat onwettige dade nou in die openbaar sonder vrees vir die polisie of tronk, gepleeg word.

Die polisie preek graag vir kindertjies by skole oor dwelmmisbruik, maar nie ’n enkele handelaar word gevang nie, net verslaafdes nadat hulle hul fix gekoop het. Verskeie dwelmafhanklikes het juis “skoon” gekom agter tralies.

Maar steeds is Middelburg is vrot van die dwelms, en dwelmslawe.
Hulle bedel openlik by verkeersligte.

Kinders word op strepe uit ouersorg verwyder weens dwelmmisbruik, wat addisionele druk op oorversadigde pleegsorg plaas.
Daar is tans ’n reusetekort aan pleeghuise op Middelburg.

Twee mans is al dood in winkelsentrum toilette gevind, een by die Middelburg Mall en die ander in die Oaks-sentrum.

Www.mobserver.co.za het selfs ’n ma met haar driejarige dogtertjie afgeneem waar sy dwelms by handelaars gekoop het.

Net twee blokke daarvandaan, het ’n vrou maandelank in ’n motorwrak by ’n skrootwerk op die sypaadjie gebly.
Besorgde besighede in die omtrek het haar gereeld in die voertuig sien dwelms spuit.

Weens www.mobserver.co.za se beriggewing, is sy vandag skoon en woon by haar ouers.

Jeandre du Toit het hom in Walter Sisulustraat gereeld voor die publiek ingespuit. Hy het vir drie weke elke dag by www.mobserver.co.za se kantore vroegoggend kom aanklop, maar word die laaste paar maande nie meer op die dorp gesien nie. Sy ma het gister die foon doodgedruk, toe daar na Jeandre se welsyn verneem is.

Www.mobserver.co.za het ’n ruk gelede R100 000 se gratis dwelmrehabilitasie vir Jarrid O’Connor gereël. Hy het net vier dae daar uitgehou.

Tik net die woord dwelms op www.mobserver.co.za se soekenjin in, en honderde resultate kom te voorskyn.

Titels soos “Familie sê: ‘Paartjie wat met kind bedel is dwelmverslaafdes,” bring die harde realiteit na vore.

Ander lees: “Willie sê jammer oor die steel” en “Dwelms op bestelling” illustreer hoe diep die dwelmdemoon in Middelburg geanker is.

Www.mobserver.co.za het nog nooit agter bosse weggekruip met lang lense om dwelmslawe te ontbloot nie.
Ons konfronteer hulle. Ons loop al jarelank die pad, hand-aan-hand met hulle.

Hulle steek dit nie meer weg nie!

Www.mobserver.co.za is al genooi om te kyk hoe berei mens heroïene voor, op video, met die inspuit daarna in volle glorie.
Beide die goed en die sleg word blootgelê, daar’s geen eensydigheid nie.

Dink net aan Monique Germishuizen wat reguit vertel het hoe sy op urien deurdrenkte matte rondgekruip het op soek na ’n krummeltjie crack.
Die sere aan haar gesig weens die pypdelery met Nigeriërs.

Sy het al vyf van haar vriende bergawe, syself is al jare skoon.

Tans word daar ’n handvol “bedelaars” vermis. Www.mobserver.co.za verheug nie in die tragedie nie, ons vra, waar is hulle, wie’t hulle gesien, wat het van hulle geword?”.

Plekke soos die Oorwinnaars en Hope Corner doen uitstekende werk, maar vir dié wat gehelp wil word.

Www.mobserver.co.za sal wees soos ’n druppende kraan in die ore van die polisie, howe en ander rolspelers totdat die erns van die saak hopelik eendag deurdring en die ware skobbejakke – die handelaars – uit die gemeenskap verwyder is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button