News

Vuil naalde en dwelms eis ‘my liefdevolle seun’

Pieter Buys het altyd vir sy ma ’n rosie gevat, wanneer hy by haar voorhekkie opdaag.

Pieter was ’n gespierde jong man met die gelaatstrekke van ’n filmster, maar toe gryp die dwelmdraak hom. Die draak wat al soveel jongmense op die dorp doodgemaak het.

Vir ’n maand kon Isabel Barnard nie uit haar bed opstaan nie, omdat sy rou oor haar kind se dood.

Nou het sy besluit om haar liefdevolle seun, wat op 35 oorlede is weens dwelmgebruik, se verhaal te vertel, “want dalk kan ek net één kind van die straat af kry met die berig.”

Pieter het op 7 Junie 2022 in die vroeë oggendure in die Middelburg Hospitaal gesterf.

Pieter Buys kort voor sy dood in die Middelburg Hospitaal. Hy was uitgeteer van die dwelmgebruik.

“Hy is oorlede aan sepsis as gevolg van vuil naalde. Dwelms het hom totaal oorgeneem…”

As sy terugdink aan haar mooi seun, dan onthou sy hoe gespierd en fiks hy was, voor die dwelms hom afgetakel het, tot net die bondeltjie mens wat in ’n hospitaalbed in pyn, bloed opgegooi het.

“Sy organe het ingegee.”

Pieter was egter nie altyd een van die jong mense met die leë oë wat by verkeersligte staan en bedel het nie.

“Hulle word uitgekryt as junkies of druggies, maar min mense besef hulle was nie altyd so nie.”

Pieter het grootgeword met ’n ma “wat hom van God geleer het.”

Die eerste waarskuwingstekens het begin toe sy, toe hy nog maar ’n tienerseun was, dagga in sy kas gekry het, terwyl sy dit reg gepak het.
Pieter se pa het egter later gesê dat hy dit net in sy seun se kas weggesteek het en sy moes dit laat begaan.

Haar slim seun is in graad 10 uit die skool en het begin werk.

Isabel is later van sy pa geskei en sy het al hoe meer gehoor dat haar kind dagga gebruik. Hy het op daardie stadium by sy pa gebly.
In ’n poging om hom skoon te kry van die dagga het sy hom gaan haal.

“Hy het vir ses weke nie uit die huis gegaan nie en die daggagewoonte gelos.”

Sy het vir hom ’n werk gereël, maar toe hy getoets word, het dit gewys dat hy weer dagga gebruik het en was sy werk kwyt.
Op ’n dag het haar seun die strate ingevaar en wou nooit weer voltyds by een van hulle bly nie.

“Ons het hom in die strate gaan soek, want mense het vir my gesê hulle sien hom spuit. Pieter wou egter nooit weer terugkom nie.”

Hy het soms in die straat voor haar huis met sy rosie in sy hand “Mammie” geroep. Dan het sy hom laat inkom, hom laat bad en kos gegee. ’n Paar keer kon sy hom oortuig om ’n paar dae te bly, maar dan is hy maar net weer terug na die dwelms toe op straat.”

Pieter het ook soms by sy suster aangeklop vir ’n bad en iets te ete, maar ook daar wou hy nie bly nie.

Gedurende Oktober verlede jaar het hy ingestem dat hulle hom na ’n rehabilitasiesentrum toe vat, maar net voor hulle vertrek, het hy besluit hy gaan nie meer nie en is terug strate toe.

In Desember 2021 het haar dogter haar laat weet dat Pieter baie siek by haar aangekom het.
“Ek het die skok van my lewe gekry. Pieter was bitter siek.”

Op Nuwejaarsdag hierdie jaar het sy hom dokter toe gevat.

Pieter se ma, Isabel, het besluit om haar seun se verhaal te vertel met die hoop dat sy ten minste net één verslaafde se lewe kan red.

“Hy het ’n groot sweer op sy onderbeen gehad en knoppe op sy arms. Hulle noem dit Pop Ups, omdat vuil naalde gebruik word en hulle te vlak in die vel spuit.”

Pieter het by haar gepleit om hom na die rehabilitasiesentrum toe te neem, “want hy het gesê hy gaan doodgaan as hy so aanhou.”
Hulle het binne ’n kort tydjie alles gereël.

“Ons het alles wat hy nodig gehad het, bymekaar gekry, selfs sy geldjies vir die kiosk!”

Isabel onthou hoe opgewonde hy en almal betrokke was dat hy uiteindelik die hulp gaan kry wat hy nodig het.

“Ons was net 10 minute tuis nadat ons in Middelburg terug gekom het, toe bel die sentrum en sê Pieter het homself ontslaan. Hy moes sy kioskgeld gevat het om ’n taxi te vat terug hiernatoe, want die volgende dag is hy in die dorp gesien.”

Isabel het weer in die strate na hom gaan soek.

“Ek het gesmeek, geskel, gedreig en geestelik gepraat, maar Pieter het nie geluister nie.”
Selfs een van die ander verslaafdes het by hom gepleit, om saam met haar te gaan vir hulp.

“Een verslaafde het vir Pieter gesê hy wat Pieter is, is baie gelukkig, want sy ma is lief vir hom en wil hom help. Die ander verslaafde het gesê sy familie wil niks met hom te doen hê nie.”

Daar was ook die kere wat Pieter by haar gepleit het vir geld.

“Ek het vir hom gesê: ‘Pieter, al het ek vier miljoen rand, sal ek dit nie vir jou gee nie, want jy gaan net weer dwelms koop.”
’n Ruk later het Pieter vir haar ’n SMS gestuur met die woorde: “Mammie, ek het weer sere!”

Sy wou hom gaan haal, maar kon hom nie kry nie. Sy het later verneem dat hy Middelburg Hospitaal toe geneem is vir behandeling, “maar hy het homself net weer ontslaan.”

’n Paar dae voor sy dood het Pieter weer buite hul huis aanmekaar geskree: “Mammie! Mammie! Mammie!”
Isabel was baie siek met griep en haar man en kleindogter is na buite.

Hulle het besef hy moet by ’n hospitaal uitkom en het ’n ambulans gebel.
Met die ambulans se aankoms, het hy verdwyn.

Maandag, 6 Junie, het die ernstige siek Pieter in die parkeerarea voor Darlings Roadhouse gelê.
’n Ambulans het hom na die Middelburg Hospitaal geneem en Isabel is gekontak.

“Hy het die lelikste sere en knoppe op hom gehad en het bloed gehoes. Die kind op die bed was my kind, maar ook nie my kind nie. Hy was so uitgeteer.”
Pieter was baie swak, maar sy sal nooit sy laaste drukkie vergeet nie.

“Hy het net een maal opgekom en my hard gedruk. Hy het geweet ek was daar.”
Pieter het kort daarna in die vroeë oggendure gesterf.

Sy weet nie presies watter dwelms Pieter gebruik het nie, maar weet “dat daar waar hy gespuit het, het dit knoppe gemaak en gate in geval. Hy het seker die goedkoop gemors gebruik wat die Nigeriese dwelmhandelaars aanmaak as die verslaafdes nie genoeg geld het nie!”

Isabel weet baie mense beskuldig dwelmverslaafdes dat hulle steel vir dwelmgeld, maar haar seun het nooit gesteel nie. “Hy het gebedel vir sy dwelms.”

Dit was vir haar so mooi toe ’n bejaarde man na sy afsterwe vir haar gesê het dat “Pieter, al het hy dwelms gebruik, steeds die grootste respek vir ander gehad het.”

Sy wil mal word van bekommernis as sy sien hoe die verslaafdes in Middelburg agteruit gaan.
“Hulle gaan doodgaan! Maar hulle wil nie gehelp word nie!”

Isabel sê mense moet ophou om geld vir verslaafdesoos by verkeersligte en straathoeke te gee. Sy stem saam met past. Jannie Jacobs (Oorwinnaars Halfweghuis),

Ayesha Snyman (Hope Corner) en die groep wat hulself, “Stop Feeding An Addiction” dat mense déél is van die dwelmkrisis.

“Met daardie R5, R10 of R20 wat jy in sy hand stop om jou gewete te sus, géé jy vir hom die dwelms! Hy koop niks anders as dwelms daarmee nie! Jy help hulle om dood te gaan!”

Sy voel mense moet eerder kos gee, maar dit moet van so aard wees dat hulle dit nie kan herverkoop nie.

“Pieter het my vertel hoe hy blikkieskos wat vir hom gegee is, net so weer gaan verkoop het of geruil het vir dwelmgeld.”

Haar hart wou breek toe sy hoor dat ’n ma van ’n dwelmverslaafde in Middelburg vir haar kind geld gee.
“Mevrou, jy maak jou kind dood. Hy koop net dwelms daarmee.”

Haar haat vir die dwelms ten spyt, sal sy nooit haar kind se sagte oë vergeet nie. Die sagte oë, die woorde ‘Mammie’ en die rosie in sy hand.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button