News

Familie hoor voormalige kaptein word nie vervolg na vrou se dood in Kranspoort

Die familie van Maryka Kleinhans, die jong vrou wat in Kranspoort gesterf het nadat sy saam met die voormalige polisiekaptein, Awie Geldenhuys, in ’n voertuig was, het verneem dat hy nie vervolg gaan word nie.

Me. Petro Bezuidenhout, Maryka se ma, het vanoggend bevestig dat die ondersoekbeampte van die Onafhanklike Polisie Ondersoek Direktoraat (Opod) hulle laat weet het dat mnr. Geldenhuys nie vervolg gaan word nie.

“Dit is vir ons ’n groot skok,” het me. Bezuidenhout gesê.

Opod se mediaverteenwoordiger het in Februarie hierdie jaar gesê dat hul ondersoek afgehandel is teen mnr. Geldenhuys, waarna dit na die Departement van Openbare Vervolging geneem is vir beslissing.

Die familie weet nie veel meer oor die beslissing nie.

“Die ondersoekbeampte het gevra of ons met die staatsaanklaer kan ontmoet oor Maryka. My dogter het gevra waarom, toe sê hy net daar gaan nie vervolging wees nie, maar dat die staatsaanklaer alles met ons sal bespreek. Ons wag nou vir ’n datum om hulle te sien.”

Mnr. Awie Geldenhuys.

•Maryka het op 27 Januarie 2019 in Kranspoort gesterf, nadat sy saam met mnr. Geldenhuys in sy voertuig was.

Haar familie was omgekrap, omdat hy hulle nooit die aand van die voorval laat weet het nie en hulle eers die volgende dag van haar dood verneem het, toe iemand hulle deur Facebook gekontak het.

Haar pa, Johan Bezuidenhout, het tot die dag van sy afsterwe in September verlede jaar, geveg vir geregtigheid vir sy dogter.

Mnr. en me. Bezuidenhout het destyds vir www.mobserver.co.za gesê dat hulle nie hul dogter se verhouding met kapt. Geldenhuys goedgekeur het nie.

Die dag van haar dood is sy saam met mnr. Geldenhuys na Loskopdam.

Daar is aanvanklik vir die familie gesê dat sy die aand met hul terugkeer uit die voertuig gespring het. Later is gesê dat sy uitgeval het. Sy het in die poort gesterf.
Opod het die ondersoek oorgeneem en daar is lank vir DNA gewag.

•Na Maryka se dood is daar ’n Facebookblad met die naam: “Justice for Maryka” begin, waar daar weekliks boodskappe geplaas word oor die gebeure en om mense te herinner wat gebeur het.

Haar ouers het voorheen gesê dat Geldenhuys “aangaan met sy lewe asof daar niks gebeur het nie. As hy by ons verby ry, dan sien ons hoe lag en gesels hy met die vrou of persoon langs hom.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button