Roos blom in Amerika
Louis Roos was die hart en siel van Middelburg Rugbyklub; briljante speler, grapkas, leier én lojaal.
’n Man tussen die manne!
Maar toe kom die roepstem uit Amerika en hy vat sy gesin sak en pak om die Amerikaanse droom te leef.
Dit is byna drie jaar later en Roos blom in Amerika.
“Ons is al twee en ’n half jaar uit Middelburg, Desember sal drie jaar wees,” vertel Louis.
Alhoewel die aanpassing van stoere Afrikaans na Engels en die Amerikaanse manier van doen, vir Louis en sy gesin ’n aanpassing was, sê hy sy Engelse juffrou sou vandag trots wees op hom.
“Ten minste braai ons nog elke naweek, maar net in ’n veilige omgewing.”
Sy gunsteling posisie in die trui van Middelburg Rugbyklub was tussen die nommer 12 en nommer 13 truie en hy het ongeveer 250 eerstespan wedstryde gespeel in 10 jaar se tyd.
Hy het met die verhuis na Amerika nie heeltemal sy rugbytrui opgehang nie. Die naaste klub aan Louis is so 35 minute se ry.
Tans help hy die spelers van die Black Stone om die spel beter te verstaan en hy speel nog so af en toe vir hulle.
Intussen rig hy af by sy oudste seun, Luan, se plaaslike voetbalspan, waar Luan die beste verdediger is en as quarter back speel, “hy duik hulle almal deurmekaar.”
Hy is ook een van die afrigters by die bofbalspan waar Luan en sy ander seun, Janru, speel en beide hulle All Stars kleure verwerf het.
Luan en Janru het alby baie vinnig aangepas en in Engels leer praat en skryf.
Luan het ook onlangs ’n Presidents toekenning ontvang. Natuurlik is hulle vrees vir misdaad iets van die verlede.
Louis sê dat die kinders “tot donker alleen buite speel en hulle kinderlewe geniet. Hulle hoef nie meer te worry oor grootmens goed nie.”
Nie net is Louis iemand wat van die balsport hou nie. Hy ry tans ook in een van die grootste motorfiets kompetisies in Amerika en is derde in sy klas. “Ek dink na my vrou en rugby is dit my grootste liefde.”
“My vrou moes haar skooltafel inruil vir ’n kantoortafel met die Powdercoating maatskappy wat ons besit,” het Louis gesê.
Met die groot aanpassing in die nuwe land, mis hy Middelburg en sy mense baie.
“Ons mis die Saterdae klubrugby en die braai saam met vriende na die wedstryd en ek lees nog pligsgetroud elke Vrydag se Middelburg Observer aanlyn.”