News

Lené rits wêreld vol as gesogte internasionale model

Die Middelburg Observer se voorbladnooi, Lené van den Berg, is ’n oudleerling van Laerskool Middelburg en HTS Middelburg wat al vir jare die wêreld vol reis as internasionale model.

Dié pragdogter van Nico en Ena van den Berg (van Middelburg) kom gereeld na Suid-Afrika om ’n paar maande in haar woonstel in Groenkol te bly of om vir haar ouers te kom kuier.

Haar ma onthou hoe Lené as klein dogtertjie al daarvan gedroom het om op voorblaaie van tydskrifte te verskyn.

Nou is sy ’n gesogte model, wat nie net op advertensies nie, maar ook op voorblaaie van internasionale tydskrifte verskyn en op die loopplanke vir wêreldbekende ontwerpers uitstap.

Lené was onderhoofdogter by Laerskool Middelburg en later hoofdogter van HTS Middelburg.

Sy was baie bedrywig op skool met onder andere balletklasse by Marietjie Grobler, waar sy later haar finale balleteksamens voltooi het.
Lené het só goed presteer in ballet dat sy goud behaal het by die wêreldkampioenskappe in Los Angeles.

Om fiks te bly, het sy netbal gespeel en in haar graad nege jaar toer hulle na Australië.

So tussendeur het sy in die Mpumalanga Jeugkoor gesing en besluit om nie saam met die koor oorsee te gaan nie, omdat sy die vorige twee jaar Los Angeles en Australië toe was.

Me. Van den Berg sê sy was verstom toe Lené as hoofdogter gekies is.
“’n Onderwyseres het egter vir my gesê dat Lené die voorbeeld is van ’n persoon wat met haar sagtheid die grimmigheid afkeer. Sy hoef nie sterk te wees om gesag af te dwing nie. Sy het ’n gedrewendheid, reinheid en sagtheid wat ’n voorbeeld is vir almal.”

Na matriek het sy B.Com Rekeningkunde gaan studeer en in haar tweede jaar die Golden Key toekenning gekry. Daardie selfde jaar word sy gekroon as mej. Kampus.
Me. Van den Berg vermoed dit is met dié kompetisie wat haar ou drome van model word weer in haar gedagtes opgespring het.

Nie lank daarna is ma en dogter na die bekendstelling van ’n nuwe Mercedes Benz genooi.
Terwyl hulle daar was het Cara Burger, wat tweede was in die mej. Suid-Afrika kompetisie, hulle op die skouer geklop. Sy het pas ’n modelskool (Now Modelling School) begin en gevra of Lené nie wil deel word daarvan nie.

Cara het vir Lené gesê dat daar verskeie tipes modelle is, daardie meisies wat op tydskriftte verskyn en dan dié wat aan mej. SA kompetisies deelneem en op loopplanke bikini’s vertoon.
Volgens Cara het Lené die tipiese ‘Nivea’ gelaat gehad, daardie gesig wat in tydskrifte die aandag trek.

Lené het besluit om haar honneursgraad in finansiële rekeningkunde te voltooi en het deeltyds modelwerk gedoen.
Nadat sy haar studies voltooi het, het sy vir haar ouers gesê dat sy haar drome as model wil bewaarheid en het hulle haar Kaapstad toe gevat.

Sy het vier agentskappe gaan sien: Boss, Ice, Full Circle en Outlaws en het op Outlaws gekies. Nadat Outlaws oorgeneem is deur ’n ander maatskappy, is sy oor na die Ice Agentskap, waar sy steeds is.

Me. Van den Berg verduidelik dat die modelwêreld in seisoene werk en dat Lené tussen Oktober en Februarie in die Kaap deurbring, waarna hulle dan terugkeer New York toe.
Van daar af word hulle uitgestuur na Europa, waar hulle gebruik word vir fotosessies en op die planke gesien word.

Omdat Lené daardie tipiese Duitse ‘look’ het, soos hulle dit daar noem, het sy die afgelope paar jaar talle kere fotosessies in Londen en Duitsland gehad.
Sy is juis nou weer in Londen, waarna sy volgende week na Italië, die week daarna na Nepal, dan Istanbul en dan Hongarye sal vlieg vir fotosessies.

Van die hoogtepunte in haar loopbaan was toe sy in 2018-2019 die “Face of Nimue” in Suid-Afrika was, en dieselfde jaar op die Execuspecs advertensie op M-Net.

Die Covid pandemie het regdeur die wêreld sy merk gelaat en Lené moes terugkeer na Suid-Afrika waar sy vir sewe maande in Ballito saam met haar ma gekuier het.

Nadat die grendelstaat bietjie gelig is, het sy in die Kaap modelwerk gedoen en in September verlede jaar is sy terug Duitsland toe.

Verlede week het sy op die wêreldbekende ‘catwalk‘ geloop met klere van die ontwerper John Charles in Portland, Londen.

•Lené trou in Desember met Wiehahn Gouws (’n geoktrooieerde rekenmeester, wat ook sy MBA verwerf het, wat vir Siemens in Duitsland werk). Die paartjie trou in Stellenbosch in die Kaap.

Www.mobserver.co.za publiseer graag ’n paar van Lené se pragfoto’s wat tydens fotosessies geneem is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button