Video bring hoop in stryd teen dwelmdraak
Deur snikke deur het Isabelle Erasmus vertel van Pieter, haar pragseun se dood. Die dood wat gekom het met vuil naalde en dwelms.
Vuil naalde en dwelms ‘eis my liefdevolle seun’
’n Ander ma het al hoe sagter gepraat toe sy antwoorde by ’n www.mobserver.co.za joernalis gesoek het.
“Ek sê elke keer vir hom hy gaan doodgaan as ek hom op straat raakloop. Hy gee net nie om nie. Hy kom slaap hier, eet hier en gaan dan net terug na sy heroïnenaalde toe. Ek wag elke dag vir die oproep wat vir my gaan sê my kind is dood.”
•Ansie Bosman soek na haar seun, Johan Jacobs, wat op 9 Junie 2022 vanaf Middelburg gebel het. Daarna was sy stem stil. Hy is weg.
‘Leef my dwelmverslaafde kind of is hy dood?’

•René Kriel se dwelmverslaafde pa, Dunee Pretorius, is al agt jaar weg.
Dogter met hart wat in keel klop na lykshuis

•’n Ma, wat net nie kans sien vir ’n berig nie, “want die pyn is nog te erg” het haar tweede kind twee weke gelede weens dwelms aan die dood afgestaan.
•Anmari Helm se bidkussingkie is stukkend en pleit sy by die Here dat al die jongmense op straat sal ophou dwelms gebruik en dat die dwelmhandelaars “sal brand in die hel.”

Al hierdie verhale is net in één week geskryf en daar is steeds mense wat nie wil glo dat dwelmverslawing en dwelmverkope buite beheer in Middelburg en die res van die land is nie.
•Verlede week spuit ’n jong man hom tussen die lang gras. Hy stop sy trollie voor hom, kyk rond en spuit homself.
Is daar werklik mense wat glo dat hy homself gespuit het omdat hy ’n diabeet is?
Dwelms, dwelms en nogmaals dwelms! Verslaafdes spuit skaamteloos.
•Die Middeburg aksie teen dwelms, wat hul WhatsApp groep, “Stop feeding an Addiction” noem, het pas ’n video vrygestel om ’n verskil te probeer maak.
Soos elke ma wat die afgelope meer as 10 jaar gepleit het by mense om nié geld te gee vir dwelmslawe nie, word die boodskap ook duidelik gemaak op die video.
•Mense soos Rozllin Cousins, wat die aksiegroep begin het, het saam met al die lede van Almal Help Almal Vlerke al vir ure op straathoeke gestaan en met plakkate gepleit: “hou op dwelmgeld gee!”
•Pastoor Jannie Jacobs, wat al vir jare met sy Oorwinnaars Halfweghuis mans van dwelmverslawing probeer red, het selfs al van die jong mans wat bedel op straat, direk gevra of hy hulle vir dwelms kan toets.
Hy sê dieselfde, ‘moenie geld gee nie.’ Jy is indirek vir daardie seun of dogter se dood verantwoordelik as hulle met jou geld sterf van dwelm oordossering.
En moenie dink dit is net alleenlopers wat dwelms gebruik nie.
•Ayesha Snyman het baie sukses by Hope Corner waar sy selfs ouers met kinders help om skoon te kom van dwelms, sodat hulle hul kinders kan behou.
•Elna Lewis, wat een van die stigterslede was van die Oorwinnaars, werk steeds met verslaafdes en is betrokke by die Chainbreakers groep.Sy het die hartseer verhaal vertel van ’n baba vir wie ’n fonds gestig moet word, omdat die kind ernstige mediese probleme het, as gevolg van haar ma se dwelmmisbruik
Dit is maar net een van honderde verhale wat sy in haar hart dra, omdat sy probeer om ’n verskil te maak tussen verslaafdes.
•Die Serving Disciples doen ook hul deel om verslaafdes die Woord en iets te ete te gee en het hulle reeds ’n paar jong mans gehelp om vir rehabilitasie te gaan.
So kan ons die lyste opnoem van al die organisasies wat met net daardie mosterdsaadjie se hulp, ’n groot boodskap van hoop teen verslawing probeer uitbring.
“Stop feeding an addiction”, ja stop om verslawing te voer en word deel van die oplossing!
“As die dwelmverslaafdes nie rock bottom slaan nie, kan niemand iets doen om hulle te help nie. Geld gee hou hulle én die handelaars op straat.”
Al die organisasies het ook ’n beroep op Middelburg en die hele Suid-Afrika gedoen om aan te hou bid vir die werk wat hulle doen, vir verslaafdes wat sukkel om die dwelmdraak te los en “dan ook vir elke familie wat teen die dwelmdraak moet baklei.”
•Op die video, wat die “Stop Feeding an Addiction”-groep goedgunstiglik vir www.mobserver.co.za beskikbaar gestel het, is die telefoonnommers van persone wat kan help. Hulle is Jannie Jacobs (Oorwinnaars) by 082 566 1862, Ayesha Snyman (Hope Corner) by 082 905 3418, Rozllin Cousins (Almal Help Almal Vlerke) 076 966 9682, Elna Lewis (Chainbreakers) by 082 556 4467 en Petro Fouché by 060 647 2412.
