Kinder- en vrouepornografie na huis gegooi
Foto’s van kinder- en vrouepornografie is teen ’n heining vasgeslinger, net etlike treë van waar twee tienerdogters in ’n erf gesit het.
“Dankie tog my vrou het uitgekom en dit opgetel en nie my dogters nie! My vrou was só getraumatiseer dat sy dit dadelik verbrand het,” het die huiseienaar, wat verkies om anoniem te bly, gesê.
Sy dogters was voor in die erf by hul huis in Lobeliastraat (Kanonkop). Een van die dogters het in hul kar in die erf gesit.
CCTV videomateriaal van ’n nabye huis, wys hoe die Toyota Raider bakkie drie keer stadig verby die huis ry.
Die derde keer slinger hy die foto’s teen die heining vas. Die foto’s was op A4 papier, opgerol en vasgemaak met ’n rekkie,
Die man sê sy vrou het op hierdie stadium uit die huis gekom en die opgerolde papier buite die heining gesien.
“My vrou was erg geskok. Dit was naakfoto’s van vroue en kinders! Sy het alles dadelik dubbel gevou dat ons kinders dit nie sien nie en verbrand.”
Dit slaan hom dronk wat die persoon se beweegrede is.
“Kry hy een of ander duistere genot om so iets te doen? Wou hy ons kinders soontoe lok en ontvoer? Ek weet nie wat sy motief was nie, maar hy was ’n opportunis toe hy my kinders sien.”
Wat die pa verder omkrap, is dat dit so naby aan Hoërskool Kanonkop gebeur het.
“Dit is so naby aan die skool. Enige kind wat verby geloop het, kon dit opgetel het!”
Die persoon het sy daad duidelik vooraf beplan, want hy het ’n chirurgiese handskoen gedra.
“Hy wou natuurlik seker maak daar is nie vingerafdrukke op die foto’s nie.”
Die pa sê hy wil graag inwoners bewus maak dat die persoon in die omgewing rondbeweeg.
“Daar is ’n wet dat jy nie kinderpornografie mag hê nie. Dit is moontlik dat hy dit iewers van die internet afgelaai het, maar dit is steeds onwettig om dit in jou besit te hê. Ons moet hom vastrek!”
•Hy het gevra dat noodgroepe veral op die uitkyk moet wees vir die voertuig en dat ouers bedag moet wees dat die verdagte dit ook nie in ander uitbreidings doen nie.
