News

Dwelmverslaafde Jarrid se ouma praat oor haar diepe hartseer

Haar stem raak weg as sy dink aan die laaste keer wat sy vir Jarrid ’O Connor langs die pad gesien het.

Margaret Berry (77), Jarrid se ouma, gee nie meer om dat mense weet wie sy is nie.

“Wat kan ek sê? Ek is so lief vir hom, maar dit is net dwelms, dwelms, dwelms. Hy wil nie luister nie.”

Me. Berry sê familie het haar vertel dat hulle vir Jarrid langs die hoofweg in Alberton (Gauteng) gesien het en het haar soontoe geneem.

“Hulle het vir hom ’n pastei en koeldrank gegee. Ek het vir hom klere, lekkers, hoofpynpille en verbande vir die sere op sy bene gegee. Jarrid was net vel en been.”
Haar hart wou breek toe sy hom sien.

“Hy was vuil. Hy kam nie sy hare nie en hy bad ook nie.”

Sy het gehoop as hy haar sien, sou hy bly wees en dalk dadelik wil gaan vir hulp.
“Hy het net gesê, hallo ouma, het jy vir my geld?”

Jarrid het darem vir haar vertel dat hy en ’n ander jong man, wat saam met hom op straat is, vir hulle ’n skuiling gebou het met padtekens iewers langs die pad. Sy weet nie waar dit is nie.

Me. Berry het al bittere trane gehuil oor dié kleinseun van haar wat al vir jare aan heroïne verslaaf is.

Middelburgers sal vir Jarrid onthou; die vriendelike dwelmverslaafde vir wie daar gereël is om na ’n rehabilitasiesentrum te gaan. Vir wie klere en geld geskenk is, maar dat hy net eenvoudig weggeloop het.

Hy was op ’n stadium vir maande skoon toe hy by Hope Corner was, maar die heroïne het hom net weer terug geroep strate toe.
Die laaste twee jaar is hy meestal in Gauteng.

“Hy bel my aanmekaar vir geld, maar ek wil nie meer vir hom gee nie, want hy gebruik dit net vir die dwelms.”

Sy onthou hoe goed hy gelyk het toe hy etlike maande gelede in die hospitaal was vir ernstige infeksies aan sy bene, weens swere wat hy opgedoen het as gevolg van die herhaaldelike gebruik van heroïne.

“Toe hy uitkom, is hy net weer terug na sy ou gewoontes toe.”

Twee maande gelede het hy haar weer gekontak en beloof dat hy ’n taxi sal vat na Hope Corner in Middelburg.

“Ek het vir hom R300 gegee en so gehoop hy sal gaan. Jarrid het my later gebel en gesê hulle wou hom nie in die taxi toelaat nie, omdat hy so vuil is. Ek weet nie meer wat om te glo nie, maar ek weet dat hy daardie geld vir sy dwelms gebruik het.”

Me. Berry sê sy bid elke dag vir Jarrid.

“Solank as wat daar lewe is, is daar hoop. Ek wens ek kon hom daar van die straat af gaan haal en na my toe bring, maar ek bly in ’n tehuis. Al was ek ook nie in ’n tehuis nie, sou hy seker net gekom en my besteel het.”

Al is ander familie en vriende keelvol vir Jarrid se dwelmverslawing en het al moed opgegee om hom te probeer help, hoop me. Berry dat Jarrid eendag tot inkeer sal kom en die dwelms los.

“Ek kan dit nie help nie, ek bly lief vir hom.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button