News

Geen stop aan Klipstraat hool, kameras weer gesteel

Inwoners van SADC- en Klipstraat sukkel vanaf Meimaand met toenemende misdaad en diefstalle wat deur haweloses en dwelmslawe gepleeg word.

Die St. Joseph’s Tehuis vir Bejaardes is weer geteiken deur haweloses wat in Klipstraat tent opgeslaan het. Die tehuis se CCTV kameras en kabels is gesteel.

St. Joseph’s se bestuurder, me. Colleen Lamprecht, sê dit is die tweede voorval, nadat ’n bekende dwelmslaaf, Michael Tobben, ook afgeneem is in April toe hy die kameras gesteel het.

Lees ook: Michael beskuldig dat hy CCTV kameras gesteel het

Hy het ook op een geleentheid die kameras probeer verkwansel vir R500.

Me. Lamprecht vertel dat hulle verskeie kere die diefstalle probeer aanmeld het by die Middelburg Polisie, wat skouers opgetrek en gevra het “wat verwag julle moet ons daar omtrent doen?”

Die muur wat grens tussen die kerk en die tehuis is beskadig in ’n ongeluk, en hulle moes vir meer as ’n maand spook om ’n saaknommer by die polisie te kry vir die versekeringseis.

“Ons is baie bekommerd oor ons gedenkmuur, omdat die nyaopeverslaafdes gereeld oorledenes se as steel, om by hulle dwelms in te werk.”

Me. Lamprecht sê dat die string tente wat in Klipstraat opgeslaan is, ’n geweldige probleem is.

Lees ook: Haweloosheid bereik krisispunt

Daar is verskeie kere in Mei, Junie en Julie deur www.mobserver.co.za berig oor inwoners wat deur hierdie haweloses geteiken word.

Behalwe voorvalle van diefstalle, het inwoners ook hulle kommer uitgespreek oor openlike dwelmgebruik op sypaadjies, prostitusie, groot vure wat in die nagtelike ure brand en rusversteuring.

• Die inwoners se klagtes is drie weke gelede onder die aandag van die Steve Tshwete Munisipaliteit gebring, met ’n versoek om die onwettige strukture af te breek.

Woordvoerder Prudence Magutle het egter gesê dat die munisipale wetstoepassers net sekere besigheidsure werk en dat die haweloses soggens reeds weg is wanneer hulle patrolleer.

Joernaliste van www.mobserber.co.za kan bevestig dat die strukture tot laat in die oggende nog opgeslaan is, waar haweloses nog lê en hulle roes afslaap.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button