Rowers in wit Toyota Corolla beroof man en dogters
Drie rowers, wat gery het in 'n wit Toyota Corolla, het weg gejaag nadat 'n man en twee dogters in Hibiscusstraat (Kanonkop) beroof is.
‘n Inwoner van Hibiscusstraat het op sy stoep gesit en gesien hoe die verdagtes later aangehardloop kom, in die kar spring en wegjaag. Hy het egter genoeg tyd gehad in die voorafgaande gebeure om die voertuig se registrasienommer neer te skryf.
Die man (wat verkies om anoniem te bly) sê hy het sy honde kort na 13:00 hoor blaf en gekyk in die rigting waar hulle blaf.
Hy het dadelik die wit Toyota Corolla opgemerk wat in Oleanderstraat staan. Oleanderstraat loop in Hibiscusstraat in.
Aanvanklik het hy nie veel daarvan gedink nie en het die kar weer gery nadat twee mans uitgeklim het.
‘n Klein rukkie later was die voertuig egter terug en het weer gestop. Dié keer het die ander twee mans, wat vroeër uitgeklim het, aangehardloop gekom, terug gespring in die Toyota Corolla en het die voertuig weg gejaag.
In hierdie tyd het die ooggetuie kans gekry om gou die registrasienommer neer te skryf.
Sowat tien minute later het sy honde weer begin blaf en is hy na buite.
‘n Man het in die straat gestaan en vir hom gesê dat hy en sy dogters pas van sy selfoon en kontant beroof is.
“Ek het vir hom gesê dat ek die registrasienommer neergeskryf het en dat hy dit vir die polisie kan gee. Hy het dit egter nie gevat nie en net daarna saam met iemand in ‘n ander kar gespring, waarop hulle in die straat afgejaag het.”
Hy vermoed hulle wou die rowers gaan soek, maar die booswigte was al lankal weg.
- Die registrasienommer van die Toyota Corolla wat weg gejaag het, is DS14BSGP.
- Die ooggetuie het gemeld dat dit die eerste keer is dat hy die voertuig in die straat opmerk, aangesien hy gewoonlik bedags tuis is. Hy wil egter inwoners in Kanonkop maan om op die uitkyk te wees vir gure karakters wat in die area bedrywig is.
