Swendelaars ‘koop’ Mercedes en vervals bankbetaling
Swendelaars wat selfs die verkoper by die polisiestasie gekry het om seker te maak hulle koop kwansuis nie ’n gesteelde kar nie, is weg met ’n man se Mercedes.
Mnr. Herman van der Linde kan steeds nie glo dat die mans, wat baie oortuigend was, hom ingeloop het nie.
“Hulle selfone was in die week nog aan, maar hulle het my geblok, sodat ek nie verder met hulle kan praat nie.”
Mnr. Van der Linde het al die gesprekke tussen hom en die swendelaars voor en na die transaksie, asook foto’s van hulle aan www.mobserver.co.za gestuur.
Hy het dit op sosiale media gedeel, met die hoop om hulle en sy voertuig op te spoor.

Mnr. Van der Linde het onlangs sy 2002 Mercedes C200 Kompressor op Facebook geadverteer.
’n Vrou het hom gekontak om te verneem of die voertuig nog beskikbaar is.
Nadat hy instemmend geantwoord het, het ’n man hom kort daarna gekontak en alles uitgevind oor die kar.
Hy het gesê hulle sal beslis die Mercedes koop.
Daar is ooreen gekom om mnr. Van der Linde by die polisiestasie te ontmoet, sodat hulle “kan seker maak hulle koop nie ’n gesteelde kar nie!”
Hy het die een man, wat homself voorgestel het as Ethel Dube, daar ontmoet en die polisie het selfs na hul Middelburg-tak gebel om te bevestig dat mnr. Van der Linde se voertuig nie gesteel is nie.
Vandaar is hulle na sy huis.
Daar gekom het Dube gesê hy het nie genoeg geld beskikbaar nie.
“Hy het gesê dat hy net R65 000 het, maar dat sy baas die volle bedrag sal oorbetaal.”
’n Man wat homself voorgestel het as Dean Theart en ’n bestuurderslisensiekaart geWhatsApp het, het gesê hy sal die R80 000 oorbetaal.
“Volgens Theart sou hulle die Mercedes registreer op die besigheid waar hy (Theart) werk en dan kan Dube dit terugbetaal. Theart het gesê hy werk vir die Allan Gray Beleggingsmaatskappy.”
Die volgende oomblik het mnr. Van der Linde ’n bewys van betaling gekry dat die volle bedrag oorbetaal is vanaf Brackenfell. Hy het daarna die kar se registrasiedokumente vir hulle ge-epos.
Dube het die kar gevat en gery.

Nodeloos om te sê, dat mnr. Van der Linde nooit die geld gekry het nie.
Alle aanduidings is dat die bewys van betaling vervals is.
Hy het talle kere na Dube se selfoon gebel en boodskappe gestuur. Dube het ’n dag of wat later gesê hy is nog in Belfast en sal die kar terugbring, maar tot vandag toe nog is die kar weg.
By navraag aan “Theart” die volgende dag, het hy onderneem hy sal sy bank bel en hoor wat gaan aan. Dit was ook net leë beloftes.
Mnr. Van der Linde het intussen ’n diefstalsaak by die Belfast Polisie aanhangig gemaak.
Hy vra dat enige persoon wat sy Mercedes of die twee verdagtes herken, om hom te bel by 067 013 9654.
•Dit blyk dat Theart beslis nie vir Allan Gray werk nie, aangesien hy die maatskappy se naam verkeerdelik as Allen (met ’n e) geskryf het in sy onderhandelinge met mnr. Van der Linde.
•Mens kan ook duidelik op die bestuurskaart sien dat dit al in 2020 verval het en dit is waarskynlik dat die swendelaars ’n ou bestuurskaart van ’n ander persoon misbruik het.
•www.mobserver.co.za het beide die nommers gebel, vanwaar die twee mnr. Van der Linde gekontak het, maar beide die selfone is af.
