Dit is nie elke dag wat dit gebeur nie, maar die kleine Laerskool Uitkyk het dit vermag.
’n Ware Dawid en Goliat stryd het homself in Kriel afgespeel waar Uitkyk se o/13 krieketspan Laerskool Krielpark gepak het.
Laerskool Uitkyk het ’n skamele 70 leerlinge en Krielpark 700.Die gemiddelde ouderdom van die Uitkyk Arende se span is 11.5 jaar.
Uitkyk het die loot gewen en besluit om eerste te kolf.
Duan Bothma en Ulrich Botha het die wedstryd geopen en ’n stewige vennootskap op die telbord gesit.
Duan is uit met ’n vangskoot vir ’n uitstekende 26 lopies.
Marinus Enslin het daarna saam met Ulrich voortgekolf.
Ulrich het ’n stewige 73 gemoker en Marnus het soos Lance Klusener losgetrek en 116 van 56 balle aangeteken.
Uitkyk het ’n totaal van 269/1 in 25 boulbeurte opgestapel.
Krielpark het na die breek tevergeefs teruggeveg. Arno Bothma het in die tweede boulbeurt toegeslaan en ’n middelpen laat spat.
Jayden Enslin (10) het sy derde beurt begin met ’n wydloper en dit opgevolg met twee balle waar daar geen lopies aangeteken is nie.
Hy stuur drie skitterende balle af, wat drie paaltjies laat spat.
Die twee energieke Bothma kleinneefs, Duan en Arno, het toe vinnig elkeen nog ’n paaltjie laat kantel. Arno met ’n vangskoot en Duan met sy boulwerk.
Jano Scheepers (10) het tot die boulaanval toegetree en met sy eerste bal ’n Krielparker se paaltjie geëis.
Jano het in sy derde boulbeurt, die hele Krielpark se kolflys inmekaar laat stort om soos sy kleineef, Jayden Enslin, ’n driekuns te behaal.
Dit is ’n dubbele driekuns in een wedstryd!
Dit was ook die einde van Krielpark wat in 15 boulbeurte almal uit is vir 45 lopies.
Die Arende, soos die span bekend staan, wen met 224 lopies.
Uitkyk kolfsyfers:
1. Duan Bothma. 26
2. Ulrich Botha 73*
3. Marinus Enslin 116*
Spelers wat nie kolfkans gekry het nie is:
4. Arno Bothma
5. Anabel du Toit
6. Philip Barkhuizen
7. Dean Bothma
8. Taylor Steel
9. Jack Beukes
10. LJ le Roux
11. Jano Scheepers
12de man. Jayden Enslin
Uitkyk boulsyfers:
Jayden Enslin 3/9
Arno Bothma 2/16
Jano Scheepers 4/12
Duan Bothma. 1/4
Anabel du Toit. 0/4
Philip Barkhuizen en Marinus Enslin het nie geboul nie.
Vangskote:
Marinus Enslin, Duan Bothma, Arno Bothma.
