Dwelmverslaafde wat vermis was, kontak sy ma
Johan Jacobs, die dwelmverslaafde jong man wat op 9 Junie laas met sy ma gepraat het, het haar gistermiddag vanaf Middelburg gekontak.
“Ek het sommer gehuil en gegil van blydskap!” het sy ma, Ansie Bosman, gesê.
Sy het Johan as vermis aangegee toe hy haar nie, soos gewoonlik, een keer per week gekontak het nie. ’n Saak is by die polisie geopen en daar is vir die groep, “Missing They Wrote” en “Pink Ladies” gevra om te soek.
Johan het haar gister gebel vanaf ’n onbekende persoon se nommer in Middelburg af en vir haar gesê hy is veilig.
“Ek het die hele tyd gevrees dat hy iewers in ’n lykshuis lê!”
Me. Bosman was sommer hartseer toe sy met Johan gesels.

“Ek het vir hom gesê dit is nie die lewe wat ek vir hom wil hê nie. Sê nou maar hy gaan dood en lê iewers onder ’n bos en niemand weet daarvan nie!”
Me. Bosman sê haar hele familie is saam met haar bly dat Johan lewe.
“Ja, hy bly nog op straat. Al is my kind ’n dwelmverslaafde, is hy ’n baie goeie mens. Hy is baie hulpvaardig en liefdevol.”
Sy is saam met familie besig om reëlings te tref om Johan so gou as moontlik in Durban (KwaZulu Natal), waar sy bly, te kry.
“Hier is ’n rehabilitasiesentrum. Johan moet net eers hier kom.”
•Me. Bernadine Wilken (Direkteur van die ‘Missing They Wrote’ organisasie) het ook laat weet dat Johan gevind is.
•Die persoon wie se foon Johan gister gebruik het (wat op die stadium anoniem wil bly) sê dat Johan gewoonlik in die omgewing van Cowen Ntulistraat tussen Lilian Ngoyi- en Samora Machelstraat rondbeweeg.
