Motorfietsryer met helikopter na Milpark
’n Motorfietsryer het ernstige bekkenbeserings opgedoen in ’n ongeluk gistermiddag in Cowen Ntulistraat.
Die ongeluk het net na 16:00 gebeur.
Mnr. Jaco Boshoff (50) was met sy Kawasaki Ninja H2 1 000CC motorfiets vanaf die dorp in Eastdene se rigting onderweg, toe ’n Toyota Corolla uitdraai vanaf die KFC parkering (naby die Rivierstraat kruising). Hy wou sy hare gaan sny by die Eastdene Sentrum.
Volgens mnr. Leon Pretorius (president, Macs Motorfietsklub) het die bestuurder van die Corolla op die toneel erken dat hy ’n U-draai gemaak het en nie die motorfietsryer gesien het nie.

Die motorfiets het die voertuig regs op die kant voor getref.
Mnr. Boshoff is per ambulans na die Life Midmed Hospitaal geneem en om middernag oorgevlieg na die Milpark Hospitaal.
Hy het sy bekken op vyf plekke gebreek en sy linkerhand op twee plekke.
Weens die swelling kan daar nie dadelik geopereer word nie.
Vriende van mnr. Boshoff het gemeld dat hy gelukkig by sy positiewe is en geen kop- en ander beserings opgedoen het nie.
•Mnr. Pretorius het mnr. Boshoff spoedige beterskap toegewens.
•Die insittendes van die Toyota Corolla, twee volwassenes en hul minderjarige kinders, het geen beserings opgedoen nie.

