Vier roof terwyl man in winkel dood lê
Nadat ’n man gisteraand koelbloedig in die Toscana winkel doodgeskiet is, het ’n rowerbende voortgegaan met ’n rooftog asof niks gebeur het nie.
’n Persoon wat gehoor het hoe die slagoffers vir die polisie van die gebeure vertel, het verduidelik wat in die winkel gebeur het.
’n Rooi Volkswagen Polo het dwars voor die winkel gestop en vier booswigte het by die deur ingeloop.
Die slagoffer het by die kasregister gestaan.
“Een het na die yskaste geloop en vir hom ’n energiedrankie gevat en reguit na die kasregister geloop. Hy het gesê: ‘ek werk hier!’ en die koeldrank op die kasregister neergesit.”
Die rower het die jong man, wat voor hom by die kasregister gewag het, weggestoot.”
“Die jong man het waarskynlik gedink hy druk in en het hom teruggestoot. Die volgende oomblik het die skoot geklap.”
Die slagoffer het in ’n plas bloed voor die kasregister neergesak, maar dit het nie die rowers gestop nie.
Hulle het die ander werknemers na agter in die winkel gedruk en die kasregisters, asook die register waar krag gekoop word, leeg gemaak.
Vandaar is een van hulle by die kantore in en het die kamerasisteem uitgehaal.
Eers nadat hulle alles bymekaar gemaak het, het hulle na buite gestorm en in die rooi voertuig weggejaag.
•Lede van die gemeenskapspolisiëringsforum en die Noodroep Radiogroep Sektor 3, was binne minute op die toneel en het die polisie en nooddienste gekontak.
•Daar is aanvanklik gesê dat die jong man in die hart geskiet is, maar daar is vir www.mobserver.co.za bevestig dat hy in die kop geskiet is.
“Volgens die mense in die winkel, het dit gelyk of net die een rower wat voor by die kasregister gestaan het, ’n wapen gehad.”
•Sowat ’n uur na die rooftog, is daar op noodgroepe gesê dat die voertuig verlate in Nasaret gekry is.
“Ek weet nie waar kom hulle daaraan nie. Die voertuig is wel gesien waar dit in Nelson Mandelastraat afjaag in Nasaret se rigting, maar volgens my kennis, is die rowers en die kar nog soek,” het die bron gesê.
•Die oorledene se naam is nog nie bekend gemaak nie.
