News

Vir R144 miljoen kry jy ’n onbeboude stuk veld

Wanbestuur met die konstruksie van die Mpumalanga-prestasiesentrum in Belfast/Emakhazeni het gelei tot verdere vertragings in die projek, wat die belastingbetaler nóg miljoene rande gaan kos, het mnr. Werner Weber, VF Plus-LPW en provinsiale leier: Mpumalanga, in ’n verklaring gesê.

Toekomstige vertragings by die sentrum in die eMakhazeni-plaaslike munisipaliteit (Belfast/ Dullstroom/Machadodorp/Waterval-Boven) wat al jare sloer, word ook verwag.

Luidens ’n ondersoekverslag wat op 2 Augustus aan die provinsiale wetgewer gestuur is, het alle bouwerk by die Mpumalanga-prestasiesentrum (Mpumalanga High Altitude Training Centre) tot stilstand gekom.

Die kontrakteur het werk gestaak aangesien daar te veel laat-betalings was, en konstruksiemateriale is óf laat, óf glad nie by die perseel afgelewer nie.

Die provinsiale departement van kuns, kultuur en sport het teen Oktober 2021 reeds meer as R144 miljoen aan die prestasiesentrum bestee.

Nadat die VF Plus einde 2021 hewige druk op die departement geplaas het, het die departement opdrag gegee dat die projek bespoedig word. Wanadministrasie en gemeenskapsonrus het dit egter sedertdien ontwrig.

Tydens ’n oorsigbesoek op 19 April deur die departement en die VF Plus, was daar nog geen bouwerk op die perseel nie. Dit was steeds ‘n onbeboude stuk veld.
Dit is onduidelik wanneer die projek voltooi sal wees, aangesien die vertragings nóg etlike maande by die voltooiingsdatum gevoeg het.

“Dit is onaanvaarbaar dat belastingbetalers se geld op hierdie wyse vermors word. ’n Projek wat moontlik voordelig vir die gemeenskap van eMakhazeni kon wees, word nou ’n bodemlose put wat op ernstige ongerymdhede in die provinsiale regering wys. Die party sal die ontwikkeling van hierdie saak dophou en indien korrupsie op enige vlak bewys kan word, sal die skuldiges verantwoordbaar gehou word en strafregtelike klagtes sal ingedien word.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button