Haaie haker uit misdadigde Suid-Afrika – pa in plaasaanval
Die oud Haaie en Puma rugbyspeler, Paul Hoffman, het na Australië verhuis om ’n beter lewe vir sy dogter te skep, weg uit misdadige Suid-Afrika...en toe word sy pa die slagoffer van ’n plaasaanval.
Die bejaarde Hoffie Hoffman is Dinsdagoggend op Mooiplaas, op die N11 (Loskoppad) oorval en beroof.
Mnr. Hoffman (76) en ’n familielid, me. Berryl Kok (68), is in hulle beddens oorval en vasgebind, nadat vier mans met balaklawas, waarvan twee gewapen was, deur ’n venster toegang gekry het.
Lees ook: Boer aangeval nadat sy honde vergiftig is
Paul het in ’n stemposboodskap gesê dat sy pa en me. Kok getraumatiseer is na die aanval, maar hulle het gelukkig nie ernstige beserings opgedoen nie.
“Ons is baie bly dat niemand ernstig beseer is nie, hoewel daar sielkundige letsels is.”
Die aanvallers het selfone en juwele gesteel en die huis is omgekeer opsoek na waardevolle besittings, nadat die twee bejaardes vasgebind is. Die honde is na wat verneem word vergiftig.

Daar was verskeie pogings aangewend om mnr. Hoffman of sy gesinslede te kontak, maar hulle kon nie bereik word nie. Die plaashek is ook gesluit, wat toegang tot die plaas onmoontlik maak.
• Die aanvalle op landelike gebiede het skerp toegeneem vanjaar, volgens statistieke wat deur die Rome Navorsings Instituut van Suid-Afrika bekend gestel is.
Daar is vanaf 1 Januarie tot 31 Julie, 78 plaasaanvalle en 21 plaasmoorde landwyd aangeteken.
Die maandelikse statistieke lyk soos volg:
Januarie: 14 plaasaanvalle en vier plaasmoorde
Februarie: 17 plaasaanvalle en drie plaasmoorde
Maart: Sewe plaasaanvalle en een moord
April: 12 aanvalle en drie moorde
Mei: tien aanvalle en twee moorde
Junie: drie aanvalle en een moord
Julie: 15 aanvalle en sewe moorde.
Paul was ’n skitterende haker wat vir Ben Viljoen se eerstespan uitgedraf het en vanaf 1998 tot 2006 in totaal 62 wedstryde vir die Pumas en later ook verskeie wedstryde vir die Haaie.
