’n Geweldige groot uittog van rugbyliefhebbers word more verwag met druk verkeer op die N4 tussen Middelburg na Nelspruit.
Daar was net een ding skaarser hierdie week in Suid-Afrika as elektrisiteit – blyplek in die Mpumalanga hoofstad.
’n Gees soos nog nooit tevore by enige rugbystadion word verwag, met vele verrassings vir toeskouers.
Die groot vraag is natuurlik wie gaan die volkslied sing, nadat Anlia van Rensburg vir Eben Etzebeth en die land verras het in sy honderdste wedstryd. Etzebeth was duidelik geraak toe sy verloofde en Getroud met rugby aktrise in ’n hoendervleis oomblik kans gegee is om die volkslied te sing.
In die tuiste van die Curriebeker kampioene is die sangvermoë van hulle afrigter, Jimmy Stonehouse, wyd bekend. Stonehouse kan net sowel ’n suksesvolle sanger wees, as wat hy ’n top afrigter is.
Hy het vanoggend gesê dat dit beslis nie hy is wat die volkslied gaan sing nie. Hy gaan wel na die wedstryd in ’n gasvryheidstent optree.
Mpumalanga Rugby-unie se uitvoerende hoof, Marius van Rensburg, het ook gesê dat hy nie weet wie die volkslied gaan sing nie.
Maak in elk geval julle sitplekgordels vas Suid-Afrika. Selfs die leeus gaan Saterdag net na 17:00 stil raak, in die wildtuin, wanneer All Black en Bok mekaar pak, in die stadion met die beste atmosfeer in die land.
