Dronk man slaan sakeman met bierbottel ‘om dood te slaan’
’n Dronk man het ’n welbekende sakeman Vrydag wreedaardig met ’n halfvol bierbottel só hard op sy kop geslaan, dat die bottel gebreek het.
“Hy het geslaan om my dood te slaan. Ek kon nie die haat in sy oë glo nie. Ek is dankbaar dat ek leef,” het die sakeman, wat verkies om anoniem te bly, gesê.
Die hele aanval is vir hom ’n raaisel, “want ek was kalm en rustig en het die aanval nie sien kom nie. Ek het ook nie besef ek is beseer, voordat die mense vir my gesê het ek bloei nie.”
Hy is Vrydag omstreeks 11:00 na die Essential Hardewarde besigheid in Wesstraat om iets te gaan koop vir nutswerk wat hy mee besig is by die huis.
Terwyl hy ingedraai het by die besigheid, het ’n man voor sy voertuig verby geloop.
“Ek het nie toeter geblaas of iets nie. Ek het gewag dat hy verbyloop en verder ingery. Die volgende oomblik het hy my verskriklik begin vloek.”
Die sakeman kon nie verstaan dat die man so ’n stortvloed van vloekwoorde na hom slinger nie en het bedaard vir hom gesê: “’n mens praat mos nie so lelik met mense nie. Die volgende oomblik het hy my oor die kop geslaan.”
Hy sê die aanval was só onverwags, dat hy nie kans gehad het om te keer nie.

Die bottel het hom teen die kop getref en hy het gevoel hoe dit breek en die bier oor sy gesig loop.
“Ek het in daardie oomblik nog gedink dat mense in rolprente steier of val, maar ek het net so daar gestaan. Daardie man wou my nie skrikmaak nie, hy wou my doodmaak.”
Hy onthou dat hy vinnig omgekyk het of alles reg is met sy bakkie, omdat hy bang was dat die man dalk makkers het en sy bakkie wil steel of beskadig.
In die daaropvolgende paar sekondes het dinge baie vinnig gebeur.
“’n Taxi, wat tydens die aanval stadig opgery gekom het in Wesstraat, het direk na die aanvaller toe gery. Toe hy stop, was die deur reeds oop en het hulle hom by hulle in die taxi ingepluk en weggery.”
Die sakeman het erge pyn op sy kop ervaar, maar nie gedink dit is ernstig nie en is die besigheid in om sy inkopies klaar te maak.
Eers toe hy binne kom en die skok op die mense se gesigte sien, het hy besef daar is fout.
“Iemand het gesê: ‘meneer, kyk hoe lyk jy!’ en het ek in die spieël gesien dat ek bloei.”
Hy was verstom oor almal se blitsige reaksie.
“Amanda Bobbins was ’n engel en het my baie mooi gehelp.” Hy het ook dankie gesê vir ’n ander personeellid (wat ook verkies om anoniem te bly).
•Vanaf die besigheid is hy dokter toe waar hy ’n klem-in-die-kaak inspuiting gekry en behandeling vir die snymerke en bloeding.
“Die dokter het gesê ek is gelukkig dat ek nie aan die kant van my kop geslaan is nie, want dan was ek dood.” Die glasstukke het ook net-net ’n senuwee in sy nek en gesig gemis.
“Baie dankie vir dr. Anton Pelimpasakis en sy verpleegpersoneel wat almal vinnig en professioneel opgetree het.”
