Dwelmverslaafde steel hondjie
’n Dwelmverslaafde jong man het Sondag ’n jong Yorkshire terriër tefie in Viljoenstraat gesteel.

Me. Deneske Gous sê sy weet hy het die hondjie aan mense probeer verkoop, wat nie belang gestel het nie. Hy het egter verder geloop en sy glo dat hy wel toe later ’n koper gekry het.
“Ek is bereid om vir Lily terug te koop. My twee dogtertjies van vier en 12 jaar oud bid en huil aanmekaar oor hul hondjie.”
Sy is Sondag omstreeks 14:00 gou dorp toe om iets te gaan koop om te eet. Met haar terugkeer was die hondjie weg.
“Die dief moes oor die heining gespring het om haar uit te haal, want sy was langs die huis agter ’n heining toegemaak.”
Me. Gous sê dat hulle elke dag op en af in die strate ry opsoek na die hond.
“Sy was egter ons ou huishondjie en ek glo waar sy ookal is, dat sy waarskynlik ook in die huis gehou word.”

Lily is 15 weke oud en was ses weke by die gesin.
“Sy het so ’n oulike persoonlikheid en ons almal was reeds baie lief vir haar.”
Me. Gous sê daar is ’n ernstige probleem met dwelmverslaafdes in hul omgewing.
“Daar slaap vyf van hulle in die parkie naby ons huis, wat ook naby ’n skool geleë is.”
Sy glo dit is dieselfde dwelmverslaafdes wat verlede week ook ingebreek het by hulle lapa.
“Hulle het die venster gebreek en ingeklim. Daarna het hulle die pasteie in die yskas uitgehaal en van dit geëet. Die pasteie wat hulle nie geëet het nie, het hulle sommer op die grond gegooi!”
Niks anders word uit die lapa vermis nie.
Me. Gous het gemeld dat hulle die sekuriteit by hul huis opgeskerp het na die inbraak en diefstal van Lily.
•As enige persoon vir Lily gesien het, bel me. Gous by 079 789 4577.
