Man vertel van jaagtog om plaasaanvallers te stuit
Mnr. Hannes Clapton het Woensdag op die Bethal/Pullenshope grondpad gery toe ’n wit Toyota bakkie “met ’n hengse spoed van voor af kom.”
Hy het dadelik besef daar is fout, aangesien die voertuig heeltemal te vinnig op dié slegte pad gery het.
Die volgende oomblik het hy nog ’n voertuig gesien wat van voor af kom en besef hulle is besig om die bakkie te jaag.
Mnr. Clapton het ’n U-draai gemaak en is saam agter die bakkie aan.
“Ek het besef dat hy heeltemal te vinnig ry om by die T-aansluiting, wat by die R35 (Bethalpad) aansluit, te stop en het hy bo-oor die teerpad gejaag en in die veld te lande gekom.”
Mnr. Clapton het saam met talle ander mense blitsig op die toneel gestop en gesien dat twee verdagtes uit die bakkie spring en weghardloop.
Hy en die groep mense saam met hom, het hulle egter vinnig voorgekeer en vasgetrek.
Kort hierna het hulle die verskrikte plaasvoorman in die bakkie se kappie gekry. Daar is ook selfone en ’n handwapen in die bakkie gekry.
’n Ander helper op die toneel (wat verkies anoniem te bly) sê “ons moet vir die Blinkpan polisie ’n pluimpie gee. Hulle was binne minute op die toneel nadat ons hulle gebel het.”
Die polisie was nog op die toneel, toe daar ’n trok en ’n bakkie op die grondpad aangery kom en is daar nóg drie verdagtes vasgetrek.
“Almal uit die gemeenskap het Woensdag gehelp en ons moet vir elkeen dankie sê!”
•Die gebeure het plaasgevind op ’n plaas in die Broodsnyersplaas omgewing.
Die plaasvoorman (wie se naam op versoek weerhou word) en sy dogter het gaan ondersoek instel, omdat die stoorkamer se deur oopstaan en die kragopwekker ontkoppel is.
Die oomblik toe hy by die stoorkamer kom, het twee rowers hom aangeval en hy het vir sy dogter geskree: “hardloop!”
Die tienermeisie het in die huis in gehardloop, die deure gesluit en die paniekknoppie gedruk.
“Sy is absoluut ’n heldin met wat sy gedoen het.”
Die rowers het die plaasvoorman oor sy kop geslaan en hom agterin die plaasbakkie geboender.
Noodgroepe, boere en gemeenskapslede het hulle na die plaas gehaas, waar ’n sekuriteitswag vasgebind gekry is.
Kort hierna het die jaagtog gevolg en is die aanvallers gearresteer.
Die sekuriteitswag is ook kort daarna gearresteer.
•Volgens die polisie sal die ses vandag in die hof verskyn.
•Die plaasvoorman is deur die eienaar van die plaas na die Life Midmed Hospitaal geneem waar ’n stukkende plek aan sy oor, waar die rowers hom met die wapen teen sy kop geslaan het, met steke geheg is.
