News

Skote klap, maar bejaardes hou aan veg

Terwyl die skote om hulle geklap het, het twee bejaardes so verwoed teen hulle aanvallers baklei, dat hulle onverrigter sake gevlug het.

Mnr. Van Duyn Doyer (77) sê die rowers het sy vrou, Janita (76) só hard met 9mm pistole op die hand geslaan, dat sy op Vrouedag ’n operasie aan haar wysvinger moes ondergaan.

Mnr. Doyer sê hy stem saam met die polisie dat die rowers hulle moontlik vanaf ’n bank in die dorp agtervolg het, want die rowers het spesifiek die handsak gesoek, toe hulle op die egpaar toesak.

“Ons het ’n reëling dat wanneer ons lone vir werkers gaan trek, ek die banksak met die kleingeld dra. Hulle moes ons beslis in of by die bank dopgehou het.”
Die egpaar het Vrydagmiddag in die parkeerarea by Afgri gestop om gou ’n paar laaste goedjies te kry, voor hul sou terugry plaas toe.

“Ons was besig om uit te klim, toe daar gelyktydig een aan die bestuurderskant en ’n ander een aan die passasierskant op ons toesak. Hulle aksies was presies gelyk.”

Beide die mans het 9mm pistole by hulle gehad.

Die een aan sy kant het hom probeer oorrompel, terwyl die een by sy vrou se deur met haar gestoei het, om die handsak by haar af te neem.
Hulle het die hele tyd geskree: “give the bag!”

Me. Doyer het vir al wat sy werd is aan die handsak geklou en die rower het haar op die vingers en hand met die 9mm begin slaan.

“Die rower by my deur het effens vorentoe beweeg, die wapen direk op my vrou gerig en die skoot afgetrek. Gelukkig het die koeël in die enjinkap vasgeslaan. As hy deurgegaan het, sou hy haar in die maag geskiet het.”

Kort nadat hy die skoot afgevuur het, het die rower om mnr. Doyer se voertuig gestorm, om sy makker te gaan help, om die handsak by me. Doyer af te neem.
Mnr. Doyer het egter ook soontoe gehardloop en die rower ’n hou met die vuis gegee.

Die wit Audi, met vervalste nommerplate, waarin een van die rowers gespring en weg gejaag het.

“Toe ek sowat twee meter van hom af was, het hy direk die wapen op my gerig en die skoot afgetrek. Dit was egter nie lewendige ammunisie nie en ek het saam begin stoei vir die handsak.”

Me. Doyer, wie se hand al gebloei het soos sy met die pistole gekap is, het die handsak in haar man se hande gelaat.

“Hulle het haar gelukkig gelos en is agter my aan. Op die stoep van Afgri het die een die handsak by my probeer afvat, maar ek het hom weer met die vuis geslaan, waarop hulle in twee voertuie gespring en weggejaag het.”

Mnr. Doyer sê daar is later ’n lewendige rondte op die toneel opgetel, “wat waarskynlik uitgespring het toe hy probeer oorhaal het. Die vier ander skote wat afgetrek is, was fopkoeëls en die doppies is ook daar gekry.”

Omdat die personeel die alarm se paniekknoppie gedruk het, was lede van Titon Sekuriteit binne minute op die toneel.

“Hulle het gesê ons is baie gelukkig dat ons nie dood of ernstig beseer is in die aanval nie.”

Die egpaar het hul inkopies klaar gedoen en vandaar is hulle na die Life Midmed Hospitaal waar X-strale gewys het dat die punt van haar regter wyswinger lelik gebreek is. Die vinger se sening is ook afgeslaan.

Weens die aard van die breek, is skenkerbeen tydens ’n operasie ingesit en die sening geheg.
’n Mens sou dink dat die paartjie slapelose nagte weens die trauma van die aanval sou hê.

“Ons het nie ’n nag se slaap daaroor verloor nie. Ons ervaring was dié van ’n diepe dankbaarheid dat ons nie ernstig beseer is nie.”

•Mnr. Doyer het gemeld dat een van die rowers ’n masker gedra het, soos dié wat almal moes dra tydens die Covid pandemie.

•Dit is vir hom interessant dat daar op al die noodgroepe net van ’n wit Audi gepraat is.

“Daar was twéé Audi’s. In die wit Audi het die bestuurder van die voertuig gesit en wag en het die een rower by hom ingespring voor hulle weggejaag het. Die ander Audi was grys, ’n ligte steenkoolkleur, en die ander rower het alleen in hom gespring en weggery.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button