Wrede hou met glas verhoed nie dat Bowen wen
Net bietjie meer as ’n maand nadat Bowen Kruger (22) snymerke in sy gesig opgedoen het, toe hy met ’n glas in die gesig geslaan is by die Hoofkantoor kuierplek, het hy Saterdag sy geveg tydens die Jock of the Bushveld toernooi binne 10 sekondes gewen.
Kruger het te staan gekom teen die Suid-Afrikaanse kampioen, Tyron Fernandes in die volkontak o/91kg afdeling.
“Dit was so vinnig verby dat ek nie eers kans gekry het om ’n sluk uit my waterbottel te vat nie,” sê Kruger se pa, Zane, wat ook sy afrigter is.

Hy vertel trots dat Bowen tydens die toernooi gekies is as die Mpumalanga spankaptein en hulle op die baan gelei het voor hul gevegte teen Gauteng.
Zane, sê die gesigbesering het sowat twee en ’n halwe weke se oefentyd “gesteel” en hy was bietjie p[ sy senuwees voor die toernooi.
Dit klink miskien nie baie nie, maar so kort voor kompetisies en die Afrika kampioenskappe, het hy reeds ’n hele paar ure ekstra oefeninge ingesit om topfiks te wees.
Kruger is op 26 Junie in die vroeë oggendure (omstreeks 01:30) in die parkeerarea buite Hoofkantoor (op die hoek van Walter Sisulu- en Cowen Ntulistraat) met ’n glas in die gesig geslaan en moes steke aan sy nek, oor en gesig kry. Sy hoofslagaar is met millimeters gemis.

Zane sê sy seun het gelukkig niks buiten merke van die snye oorgehou nie.
“Kort na die gebeure was die snymerke baie sensitief, maar dit pla nie nou meer nie. Bowen het nie gaan lê nie.”
•Ter voorbereiding van die Afrika kampioenskappe die einde van die maand, sal Bowen die naweek skerm by Morné Lotter se klub in Centurion.
“Hy gaan teen vyf ouens skerm, ’n paar van hulle professionele vegters, waaronder die SA swaargewig kampioen, Justin Clark, wat in die 115kg afdeling veg.”
Kruger oefen tans twee dae per week by Pieter de Klerk se XKT-klub en die res van die week twee ure per dag onder sy pa se bekwame oog.
Alhoewel Fernandez ook by die Afrika kampioenskappe sal veg, sal Kruger nie weer teen hom te staan kom nie.

Fernandez sal veg in die o/91 kg en Kruger in die o/86kg.
“Bowen moet nog so paar kilogramme afskud en hy gaan nie gelukkig wees as ek sê hy moet maar die stylsel so bietjie los nie.”
Zane sê volgens die program sal Bowen te staan kom teen onder andere ’n vegter van Mauritius en een van Senekal.
Die gevegte sal vol kontak, laag skop wees.
“Laag skop beteken dat die bene, bokant die knie, ook raakgeskop mag word tydens die gevegte. Met hoogskop gevegte mag hulle net bokant die gordel skop.”
