Bossie sterf in motorfietsongeluk op Roossenekal-pad
’n Bekende motorfietsryer van Middelburg, Johan Strydom, beter bekend as Bossie, is gisteraand kort na ’n ongeluk op pad hospitaal toe oorlede.
Sy vrou, Yvette, sê sy het nog kort na 16:00 met hom gepraat en hy het gesê dat hy in Steelpoort gaan ry op pad na Middelburg.
Hy was vir werk op Steelpoort.
Na wat verneem word het hy met sy KTM motorfiets gery en sowat ’n kilometer en ’n half naby die vulstasie op Blinkwater het ’n voertuig voor hom ingedraai.
Hy het uitgeswaai en ’n sement leivoor getref.
Die erg beseerde mnr. Strydom is per ambulans na die Middelburg Hospitaal afgevoer.
“Ons het by die Life Midmed Hospitaal gesit en wag en het een van ons vriende later Middelburg Hospitaal toe gery om te hoor of hy dalk daar is. Daar het hulle gesê dat hy op pad hospitaal toe oorlede is.”
Een van sy vriende, mnr. Edward Klopper, sê hy en Bossie “was soos broers. Hy was ’n dierbare ou, wie se hart oop was vir almal.”
Me. Strydom het dit beaam en gesê dat haar man sy laaste sou gee vir ander.
Hulle is tans nog besig om begrafnisreëlings te tref. Die plan is om die begrafnis uit die Lighuis gemeente te hou.
