News

Onderwyseres se droom van Passiespel verydel, nadat pyp op haar voet val

Me. Dorette Nel (66) het vir jare gedroom om die Passiespel in Oberammergau by te woon.

Sy en haar man, professor Danny Nel, het saam met Gerrie Pretorius se Leef jou reis-span na Duitsland gereis om die Passiespel by te woon.
Net dae voor die vertoning is dié oud onderwyseres met septiese skok gediagnoseer en is sy in Oberammergau oorlede.

Me. Nel is ’n afgetrede onderwyseres van Pretoria en haar man, prof. Nel, is ’n registrateur van die akademie van die Afrikaanse Protestante Kerk.

Hulle het op 15 Julie vanaf O.R. Tambo-Internasionale lughawe vertrek na Duitsland as deel van hul toer saam met die Leef jou reis-span.
Hierdie toer was spesifiek gerig op die aangrypende Passiespel in Oberammergau, maar hulle sou ook München en Istanbul besoek.

Op 16 Julie het die Nel-egpaar in München geland en hulle het die bus geneem na die Maritim-hotel. ’n Pyp het toe uit die bagasieruim op me. Nel se voet geval.
Prof. Nel sê dat sy al ’n geruime tyd met haar voet gesukkel het, maar dat hul nie veel daarvan gedink het nie, alhoewel sy gekla het dat haar voet seer is.

Die Nel-egpaar het hul bagasie in die hotel gaan neersit en saam met Pretorius in die bekende Hofbräuhaus gaan kuier. Teen Sondag, 17 Julie, was haar voet erg geswel, en het sy die dag in die hotel deurgebring.

Pretorius het ’n taxi gereël vir me. Nel om haar die Maandag na Oberammergau, die toergroep se volgende bestemming, te neem.

Met hul aankoms in Oberammergau, was die personeel by die gastehuis geskok oor die toestand van me. Nel se voet en hulle het dadelik ’n ambulans ontbied om haar na ’n hospitaal te neem.

Prof. Nel het sy vrou die middag besoek en hulle het nog gesels, min wetende dat dit die laaste keer sou wees.

Maandagaand is me. Nel gediagnoseer met sepsis en septiese skok en sy het bloedklonte in haar bene en longe gehad. Sy is in ’n medies geïnduseerde koma geplaas en het ’n noodoperasie ondergaan, om die druk te probeer verlig.

Sy kon nie die Woensdagaand die Passiespel bywoon nie.

Alhoewel prof. Nel aanvanklik nie die vertoning wou bywoon nie, het sy seun, SD en skoondogter, Danelle, hom aangemoedig. Hy het die geleentheid bygewoon en sy vrou se droom namens haar verwesenlik.

Intussen het SD, gespook om vir hom ’n visum en vlug te kry, sodat hy hom by sy ouers kon aansluit.
Hy het Vrydag in München geland.

Me. Nel is die Saterdag omstreeks 03:45 oorlede.

Prof. Nel het op 30 Julie, ’n week nadat me. Nel oorlede is, alleen huistoe gevlieg.
Haar liggaam het verlede Saterdag in Suid-Afrika aangekom vanaf Duitsland.

Me. Nel se begrafnis en diens het Donderdag plaasgevind vanuit die Hervormde Kerk Wonderboom in Pretoria.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button