News

Leef Johnny Bosman nog?

“Johnny is nie dood nie. Johnny is nie dood nie. Hy is net uitgepass,” sing Koos Kombuis.

Vir nege jaar al wonder inwoners van Middelburg of Johnny dood is of is hy dalk iewers uitgepass?

Johnny Bosman was “Middelburg se boemelaar”.

Hy het soms in Piet Retief of Natal gaan swerf, maar altyd weer teruggekeer na sy geboortedorp. “Johnny met die hond” met sy skreeusnaakse staaltjies wat so maklik ’n traantjie kon uitpers as hy ’n paar sent gebedel het.

Johnny wat eerder sou honger ly om seker te maak sy hond, Johnathan, het ’n ietsie om te eet.
Die hond waarvoor hy só lief was dat hy hom op sy kuit laat tatoeër het.
Die hond waaroor hy vir dae aaneen gehuil het toe hy uitgesit is.

Hierdie week wonder ons weer oor Johnnny.
Johnny wat op 28 Augustus sy 64ste verjaardag vier.

Die Johnny boemelaar wat ons geken het, sou nie sommer net weg gebly het van sy familie af nie. Hy sou kort-kort opgedaag het vir ’n bed en kos, ’n dag of twee se kuier en dan weer strate toe gegaan het.

Dit is nou bykans nege jaar laas wat sy familie van hom gehoor het en hulle wil weet of hy nog leef en of hy dalk iewers as armlastige begrawe is.

“Johnny het nooit gebel nie. Hy het nie ’n selfoon gehad nie. Al die jare sou hy net ’n kollekteer oproep gemaak het as hy iewers in Pretoria is, dan sou ek hom gaan haal. Ek het álles probeer dat hy by my moes bly, maar elke keer was dit net ’n paar dae, dan groet hy maar weer,” het sy broer, afgetrede polisieman Johan Bosman, hierdie week gesê.

In Middelburg en ook by die koerant was hy ’n bekende gesig. Dit was elke keer sy eerste stopplek as hy van ander dorpe af terug gekom het.

Hy was eenkeer selfs by die koerant sonder ’n broek en skoene wat “gesteel” is. Hy het dit onder ’n kar versteek vir ’n geldjie (wat in die redakteur se kantoor vir hom gegee is) sodat hy sy geliefde “Zorba” drankie kon gaan koop. Daardie einste Zorba het hom altyd erg laat vloek en dan het hy sommer kans gesien vir Chuck Norris én Tarzan.

Hy het selfs ’n keer tot inkeer gekom nadat hy ernstige brandwonde opgedoen het. Hy is Swartfontein toe gestuur en was ’n rukkie van die strate af, maar die langpad het maar net weer geroep.

In 2013 is Johan laat weet dat die polisie Johnny se sak by die Piet Retief grenspos gekry het. Johan se nommer was in die sak.

Buiten Middelburg, wat Piet Retief, Richardsbaai en Empangeni ook van sy gunsteling swerfplekke.
•Na talle berigte in 2015 op www.mobserver.co.za, laat ’n vrou weet dat Johnny by ’n tentdorp vir haweloses in Richardsbaai gesien is. Volgens die bron, wat haarself net “Elize” genoem het, het hy weer ’n hond gehad met die naam “Jonathan”.

Ons het alles probeer om hom op te spoor en het selfs Solidariteit Helpende Hand én van ons eie familie in Richardsbaai gekontak om uit te vind of dit hy is.

’n Foto is vir Solidariteit gestuur, wat beloof het dat hulle sal laat weet as hulle hom sien. Hy het egter nooit by hulle kom aanklop nie.

Ons familie het wel ’n man met ’n hond by ’n verkeerslig gesien, maar toe hulle hom vir die joernalis gaan soek, was hy skoonveld.

•In Oktober 2015 laat oud-Middelburger Hannetjie van der Merwe weet dat sy Johnny in Richardsbaai gesien het. Sy het onderneem as hulle weer soontoe gaan sal sy uitkyk vir hom.

•Later het ons gerugte gehoor dat hy in New Castle gesien is. Dit kon egter nooit bevestig word nie.

•Inwoners het ook destyds laat weet dat daar ’n “oom Johnny” in Secunda se strate is, maar die foto wat hulle aangestuur het, was nie hy nie.

•Dr. Tinus van der Merwe (leraar, Lighuis gemeente op Middelburg) sê hy onthou ook vir Johnny.
“As ek hom raakgeloop het, het hy gevra vir ‘’n bietjie gebed.”

•Johnny het matrikuleer aan Hoërskool Middelburg en was een van drie kinders.

Sy pa, Daantjie, was ’n provinsiale skeidsregter.

Na skool was hy vir ’n ruk ’n vakleerling by Thos Begbie en selfs ’n rukkie by die spoorwegpolisie.

Later is hy vloot toe. In die tyd wat hy in Durban was, het hy ’n meisie ontmoet en het hulle trouplanne gehad. Nadat die verhouding op die rotse beland het, het Johnny die strate gekies.

Johnny het op ’n stadium saaglemme skerp gemaak vir ’n lewe, toe by iemand op ’n plaas buite Middelburg gebly en los werkies gedoen, ’n draai by Afrika Meubels in Middelburg gemaak en selfs by ’n algemene handelaar op Piet Retief gewerk.

•Johnny kan uitgeken word aan die tatoeërmerk van sy geliefde hond, Jonathan, op sy kuit, asook die brandmerk agter op sy blad.

•As enigiemand weet of Johnny nog leef of moontlik oorlede is, bel Johan by 082 320 5475.

•Die meegaande foto’s is deur die jare van Johnny geneem toe hy bekend was op Middelburg.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button