Ben Vuurwarm teen Rustenburg
Duane? Duane wie? Of is dit dalk eerder Ben? Ben wie? Ben Vuurwarm!

Ben Jansen van Vuuren het Saterdag meesterlike agsteman spel gelewer, in die klas van Duane Vermeulen, om Rustenburg met 52-0 in die Noordvaal halfeind om te dop.
Groot Ben was oral. Hy het soos ’n vleuel met die bal gehardloop, geduik, skoongemaak, om die skrum gebreek én sy werk in die lynstane gedoen.

Moenie die besoekers vlak kyk nie, hulle het self ’n paar bere in hulle geledere gehad, maar Jansen van Vuuren en sy sewe makkers was onstuitbaar.
Die dodelike groen gif het stadig deurgetrek en sonder balbesit was Rustenburg magteloos.
Middies druk uiteindelik agt skitter drieë, waarvan Jansen van Vuuren en kaptein Grant de Jager elk twee druk.
Die ander driedrukkers was Mnoqbi Nkonde, Philasande Ntshapela, AJ Oberholzer en Simtha Maseko. Fumani Chauke slaag met ’n strafdoel en losskakel Oberholzer klits ook ’n doelskop en strafdoel oor, in erge winderige toestande.

Dit was ’n plesier om te sien watter Barbarian rugby Middies speel, wat amper herinner het aan die dae toe Henna (Hennie Fensham) en Benna (Ben de Klerk), die span afgerig het.
Die wedstryd was kliphard, met onnodige geniepsigheid wat tot verskeie geel kaarte gelei het.
Die groot Middie teenwoordigheid en sang van die pawiljoen af, was ’n riem onder die hart.
Na hulle groot nederlaag vroeër die seisoen teen Nelspruit sal Middies hoop dat ’n tweede keer skeepsreg sal wees. Die twee skole pak mekaar Saterdag in die eindstryd op Nelspruit.
Die o/15A span het Nelspruit met 14-7 geklop, om ook na die eindstryd deur te dring.
Die bepalings vir Saterdag is:
9:00 o/14A Rustenburg vs Transvalia.
10:20 o/15A Middelburg vs Rustenburg.
11:30 o/16A Montana vs Nelspruit.
13:00 Middelburg vs Nelspruit.

