Bruidegom sterf twee dae na verrassingstroue
Net twee dae na Pieter Jones (32) ’n verrassingstroue vir sy bruid, Yvette, gereël het, het hy Sondag weens ’n hartaanval gesterf.
Ds Colin Hertzog van die Hervormde Noord Gemeente, wat die paartjie Vrydag in die huwelik bevestig het, sal ook die begrafnisdiens Donderdag lei.
“My dogter was net twee dae getroud,” het Yvette se ma, Debbie Verster, vanoggend hartseer gesê.
Die paartjie is Vrydag by Event City getroud en het Saterdag vertrek na Mount Amanzi (Hartbeespoortdam) vir hul wittebrood.
“Yvette het nog Sondagoggend vir my vertel dat hulle Sondag net rustig gaan deurbring en dan Maandag bietjie gaan rondry. Omstreeks 16:00 het Yvette my histeries gebel en gesê die personeel is besig om mond-tot-mond asemhaling te doen.”
Met die ambulans se aankoms is Pieter kort daarna dood verklaar.
Me. Verster vertel hoe Pieter vooraf met hulle gereël het om nie ’n woord te sê oor sy beplande troue met Yvette nie.
“Sy het eers Vrydag 12:30 gehoor wat aangaan toe sy haar huwelikskontrak teken. Haar rok was klaar betaal en Pieter het selfs gereël dat haar hare en grimering gedoen word! Sy het nog Vrydagoggend gedink dit is vir ’n familie fotosessie!”

Me. Verster meld dat Pieter en Yvette beplan het om te trou, “maar toe kom Covid. Daarna het hulle besluit om Desember in Mosambiek te trou.”
Pieter het ’n ruk gelede ernstige infeksie in sy longe gekry en was vir ’n maand aan ’n asemhalingsmasjien (ventilator) gekoppel.
Hy is sowat ’n maand gelede ontslaan en het twee weke later besluit om ’n verrassingstroue te reël.
Pieter en sy broers, Stanley en Martin, was onafskeidbaar en die drie broers het verlede Woensdag saam gaan gholf speel.
By die vyfde putjie het hy nie lekker gevoel nie en hulle het Yvette gebel.
Sy het hom dokter toe geneem en is hy op aarvoeding gesit.
“Teen Donderdag het hy egter baie beter gevoel,” sê me. Verster.
Me. Verster onthou die spesiale gebeure en die groot verrassing vir haar dogter.
“Alles was só mooi!”
Daar is beplan dat die paartjie se tweejarige dogtertjie, Livia, by haar ouma Debbie bly terwyl haar ma en pa op hul wittebrood is.
“Saterdag het hulle haar by my kom haal en saamgevat toe hulle alles gepak het vir die wittebrood. Ek is so bly hy het nog daardie tydjie saam met klein Livia kon deurbring.”
Almal wat Pieter geken het, onthou sy fyn sin vir humor.
“Pieter was altyd vol grappies,” sê me. Verster.
•Pieter word oorleef deur sy vrou Yvette, dogter Livia, sy ma Dorothy, broers Stanley en Martin, skoonsusters en skoonfamilie.
•Die begrafnis is Donderdag om 11:00 uit die Hervormde Kerk, Noord gemeente.
