Woonbuurtes derde week sonder elektrisiteit
Dit is die derde agtereenvolgende week wat Kanonkop en Dennesig inwoners sonder elektrisiteit sit.
Laatnag uile van die woonbuurte sê dat die krag omstreeks 23:00 Dinsdagaand reeds uitgeskop het.
Daar is ook dele van Groenkol en Mineralia wat nie elektrisiteit het nie.
Die plaaslike DBV sit ook sedert 17:00 gister sonder krag, en bystand batterye vir hul telefone het ook begin leegloop, omdat dit nie herlaai kon word nie.
Die krag na van die buurte, soos Kanonkop, is kort voor 09:00 vanmore weer aan.
Die oorsaak van kragonderbreking is weens die diefstal van ’n munisipale loodskabel sê Dennesig DA raadslid Johann Dyason.
Die kabel is nog nie vervang nie, maar elektrisiëns het ’n plan gemaak om die woonbuurte op ’n ander kringkonneksie te plaas.
“Ons sukkel met kommunikasie weens die staking, aandag word wel, wanneer omstandighede veilig is, aan die probleme gegee,” sê mnr. Dyason.
Mederaadslid, Deon van der Merwe, sê dat elektrisiëns tot na 01:00 vanmore in Limpopostraat aan Groenkol en Mineralia se kragsituasie gewerk het.
Die oorsaak kon egter tot dusver nog nie bepaal word nie.
Hy eggo mnr. Dyason se woorde dat kommunikasie tans ’n reuseprobleem vir raadslede is.
“Ons kry terugvoer in sarsies, maar verstaan dat werkers onder moeilike omstandighede en geweldige druk werk”.
“Van die DA se kant af wil ons hierdie werkers hartlik bedank, hulle is eintlik helde,” sê mnr. Van der Merwe.
