News

Opstokers val mense aan wat dorp probeer skoonmaak

'n Twaalfjarige kind is erg getraumatiseer nadat 'n groep kwaadstokers toegesak het op een van die groepe mense wat vanmiddag probeer het om die Middedorp skoon te maak.

‘n Sestigjarige werknemer van Mica, wat die een trok bestuur het wat die vullis opgelaai het, is uit ‘n trok uit geruk en met pepersproei in die gesig gespuit.

Daarna is die kantruit van die trok uitgeslaan, die windskerm erg beskadig en een van die wiele met ‘n skerp voorwerp stukkend gesteek.

Al die swartsakke met gemors wat die helpers reeds opgetel het, het die aanvallers van die trokke af geruk, stukkend geskeur en in die pad uitgegooi.

“Ek gaan dit nie hier los nie! Ek gaan regshulp inkry en ‘n paar sake open, waaronder aanranding, en opsetlike saakbeskadiging,” het ‘n omgekrapte mnr. Hugo de Witt (eienaar, Mica) kwaad uitgeroep.

‘n Groep inwoners het om 14:00 by Mica byeen gekom om die dorp te begin skoonmaak.

Almal se voertuie is by Mica gelos, waarna hulle in groepe ingedeel is om in Walter Sisulustraat te begin skoonmaak.

Drie trokke en ‘n laaigraaf het saambeweeg en kon die mense die sakke op die trokke gooi. Bottels en ander groot gemors is op die laaigraaf gegooi.

“Terwyl ons in die straat afbeweeg het, het mense ons gegroet en dankie gesê. Almal was so positief,” sê mnr. De Witt.

Na sowat twee ure se werk, het die drama by een van die klein groepies op die hoek van Walter Sisulu- en Bhimy Damanestraat begin.

‘n Voertuig, waarin vier mans was, het stadig verby gekom en ‘n bottel in die straat naby die skoonmakers gegooi.

Een van die persone wat skoongemaak het, het net rustig die bottel opgetel en aangegaan om skoon te maak.

Die volgende oomblik het ‘n groep van omtrent 20 opstokers op die groep toegesak.

“Van hulle het munisipale oorpakke aangehad, waarop die woorde: ‘Steve Tshwete Municipality’ agterop staan,” onthou mnr. Marius Pretorius (werknemer van Mica).

Die groep het ‘n graaf uit ‘n vrou se hande uit geruk en ook ‘n besem by die kind gegryp.

Tussendeur het die aanvallers die swartsakke van die trokke afgeruk en dit op die pad uitgegooi.

Mnr. Pretorius, wat gevrees het vir die trokdrywers se veiligheid, het dadelik vir hulle gesê om terug te draai Mica toe.

Die agterste trok kon weens verkeer nie vinnig genoeg omdraai nie en het die aanvallers op die trok en drywer toegesak.

Hulle het hom uitgepluk, met pepersproei gespuit en die trok beskadig.

“Hierdie skoonmaak-aksie was nie polities nie, almal het net lekker saamgewerk en was so opgewonde om iets vir hul dorp te doen. Hoekom moes ‘n handjievol mense dit nou kom sleg maak?” het mnr. De Witt moedeloos uitgevaar.

 

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button